Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Harde werk en deursettingsvermoë lei tot Varsitybeker-debuut vir Matie-rugbyspeler
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 01/03/2017

Logan Boonzaaier se verhaal bewys nie net dat drome waar word of dat harde werk beloon word nie, maar ook dat die strukture wat die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport skep om voornemede en huidige studente-atlete by te staan, werk.

Boonzaaier het onlangs sy debuut vir Maties in die Varsitybeker-rugbyreeks gemaak. Sy eerste wedstryd in die maroentrui word egter voorafgegaan deur 'n baie interessante storie, gekenmerk deur groot drome en deursettingsvermoë.

"Ek wou bitter graag aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar my punte was nie goed genoeg nie," vertel Boonzaaier, wat in 2014 aan die Hoërskool Franschhoek gematrikuleer het.

"Ek het dus in 2015 aansoek gedoen vir die US se SciMathUS-program sodat ek my punte kon verbeter en uiteindelik 'n Matie kon word. SciMathUS het my nie net gehelp om my punte te verbeter en só toelating tot die US te kry nie, maar dit het my ook geleer om beter te prioritiseer. Om te studeer en my graad te kry, is vir my die heel belangrikste. Ek wil graag iets bereik in my lewe. Ek wil eendag 'n goeie werk hê."

SciMathUS is 'n oorbruggingsprogram gesetel in die Fakulteit Opvoedkunde. Studente word ondersteun om hul matriekresultate in kernvakke te verbeter en sodoende toegang tot tersiêre onderwys te verkry. Studente volg een van twee kurrikulums : Wiskunde en Fisiese Wetenskappe en herskryf die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) eksamen in albei vakke; of Wiskunde en Inleiding tot Finansiële Rekeningkunde en Inleiding tot Ekonomie en herskryf die NSS-eksamen in Wiskunde. Die ander twee vakke word deur die US aangebied en geassesseer.

Boonzaaier het in 2016 toelating tot die US gekry en studeer tans BCom Finansiële Rekeningkunde.

Hy was nog altyd 'n kranige rugbyspeler en het verlede jaar vir die PSO Barbarians in die eerstejaarstoernooi uitgedraf.

Hy sou nooit kon raai dat hy in werklikheid die eerste tree geneem het om in die Maties-rugbyspan opgeneem te word nie.

"Die afrigter van die Maties Young Guns (Maties se o.20-span), Christoff Lotter, het my sien speel. Hy het my gebel en gesê ek moet saam met die Young Guns kom oefen. Ek kon dit nie glo nie! Vir my is deel van Matiewees om vir Maties rugby te speel."

Ná 'n seisoen as die Young Guns se skrumskakel het Boonzaaier nog 'n oproep gekry – hierdie keer van Hawies Fourie, Maties se afrigter.

"Hy het my gevra of ek sou belangstel om vir die Varsitybeker-span te kom speel. Sou ek belangstel!? Ek kon dit weer eens nie glo nie. Nog 'n droom wat waar geword het. Ek gee alle eer aan God vir die wonderlike manier waarop dinge in my lewe gebeur."

Boonzaaier het sy Varsitybeker-debuut vir Maties gemaak toe hy as plaasvervanger-skrumskakel teen NMMU-Madibaz op die veld gedraf het en is baie opgewonde oor die deure wat vir hom opgegaan het.

Lees hierdie berig vir meer suksesverhale.