Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skenking van minibus is 'belegging in kinders se toekoms'
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 01/03/2017

Hulle het nie bloot in 'n minibus belê nie – hulle het 'n belegging gemaak in die toekoms van kinders in Suid-Afrika.

Só voel twee Duitse parlementslede wat die Universiteit Stellenbosch se Departement Sportwetenskap Maandag besoek het om die sleutels van 'n Quantum-minibus aan die departement te oorhandig.

Hierdie bussie sal hoofsaaklik deur studente in die honneursprogram Kinderkinetika gebruik word om die gemeenskappe wat hulle bedien, te bereik.

Ulla Schmidt, visepresident van die Duitse Bundestag (parlement), en Dagmar Freitag, voorsitter van die sportkomitee in die Duitse parlement, het saam met prof Elmarie Terblanche, voormalige voorsitter van die Departement Sportwetenskap, dr Heinrich Grobbelaar, huidige voorsitter van die Departement Sportwetenskap, en dr Eileen Africa, koördineerder van die Kinderkinetika-program, by die Laerskool Weber Gedenk in Jamestown besoek afgelê.

Daar het van die honneursstudente 'n praktiese klas vir die graad 3-leerders van juffrou Eustacia van Wyk aangebied, met 'n fokus op die bevordering van onder meer hand-oog-koördinasie en balans.

Volgens die skoolhoof, mnr Terence Moses, is dit tot die skool se voordeel dat hierdie studente hul praktiese ure daar kom opdoen.

Kinderkinetika poog om die neuromotoriese ontwikkeling van jong kinders (0-13 jaar) optimaal te bevorder deur middel van fisieke aktiwiteit.

Die Kinderkinetika-program is ook betrokke by groepe in Kylemore, Mitchells Plain, Somerset-Wes, Bellville en by die Tygerberg-kinderhospitaal. Hulle bied ook sessies aan by verskeie Virgin Active-gimnasiums.

 "Ons is baie beïndruk met wat ons vandag gesien het," het Freitag gesê. Sy het 'n paar jaar gelede met die Departement Sportwetenskap kennis gemaak toe sy Duitse atlete wat op Coetzenburg geoefen het, besoek het.

"Duitsland se bydrae is meer as net 'n druppel in die emmer, maar dit is klein in vergelyking met julle insette en bydraes. Ons is bly dat ons julle kan ondersteun," het sy bygevoeg.

Schmidt, wat 'n opgeleide onderwyser is, het vir die departement en die studente gesê hulle doen fantastiese werk.

Dr Africa, wat die Kinderkinetika-honneursprogram by die US ontwikkel het, is baie passievol oor kinderontwikkeling, en veral ontwikkelingsmylpale.

"Beweging bied vir kinders 'n stewige basis vir verdere ontwikkeling – nie net fisieke ontwikkeling nie, maar ook kognitiewe en sosiale ontwikkeling. Fisieke aktiwiteit is ook 'n belangrike komponent van algehele gesondheid. Kinders moet beweeg soveel hulle kan.

"Vervoer was tot dusver vir ons 'n groot uitdaging, maar hierdie bussie sal dit vir ons moontlik maak om die kinders met wie ons werk, makliker te bereik."

Die bussie (Jokl) is vernoem na dr Ernst Franz Jokl, die Duitser wat die Departement Sportwetenskap (destyds bekend as liggaamlike opvoeding) in 1936 gestig het.