Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitstekende vertonings by Swem Grand Prix op Coetzenburg
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 01/03/2017

Suid-Afrika se swemheld Chad le Clos het uitstekende vertonings gelewer by die Swem Grand Prix wat die afgelope naweek by Coetzenburg aangebied is. 

Hy het onder meer die 200 m-vlinderslagitem in 'n tyd van 1:56.54 gewen en daarmee sy byeenkomsrekord van verlede jaar met 0.06s verbeter.

Le Clos het voor die byeenkoms aangedui sy doelwit vir die jaar is om vir die 2017 FINA Wêreldkampioenskap in Hongarye te kwalifiseer en die 200 m-vlinderslagtitel terug te wen. Le Clos het in 2012 die Olimpiese titel en in 2013 die wêreldkampioenskaptitel in hierdie item gewen. By die 2015 FINA Wêreldkampioenskap het die Hongaar Laszlo Cseh hom egter geklop en by die 2016 Olimpiese Spele in Rio moes Le Clos met die vierde plek tevrede wees terwyl Michael Phelps goud opgeraap het.

Le Clos het ook die 200 m-vryslag- en 100 m-vlinderslagwêreldtitel in sy visier. Hy het albei hierdie items dié naweek in Stellenbosch met tye van onderskeidelik 1:48.38 en 52.83 gewen.

"Dit was baie lekker om vir 'n derde keer hier deel te neem – dit is altyd pret, en hier was 'n paar goeie vertonings," het 'n tevrede Le Clos ná die byeenkoms gesê. Hy meen Stellenbosch het van die beste geriewe in die land. Dit is die derde keer dat 'n Grand Prix-byeenkoms in Coetzenburg se ultramoderne Olimpiese-grootte swembad aangebied is.

Nog 'n Olimpiese swemmer, Cameron van der Burgh, het eerste die muur geraak in die 100 m-borsslag, maar het gesê die Grand Prix gaan eerder oor voorbereiding vir die SA Nasionale Akwatiese Kampioenskap in April as oor wen. Die nasionale kampioenskap sal as 'n kwalifiserende byeenkoms vir die FINA Wêreldkampioenskap dien.

"Wat hierdie byeenkoms spesiaal maak, is die geleentheid om die bewonderaars te ontmoet en hul opgewondenheid oor swem as 'n sport te sien," het hy gesê.

BCom-student Emma Chelius het uitgestaan onder die Matieswemmers. Sy het die 50 m- en 100 m-vryslagitem asook die 50 m-vlinderslagitem gewen.

Hoër Meisieskool Rhenish se Inge Weidemann het tweede gekom in die 50 m- en 100 m-vryslag en derde in die 50 m-vlinderslag, terwyl nog 'n Rhenish-leerder, Kiara Noades, tweede in die 50 m- en 200 m-rugslagitem en derde in die 100 m-rugslagitem geëindig het.

Marli Jacobs, 'n vierdejaar-BEd-student, was derde in die 100 m- sowel as die 200 m-vlinderslagitem terwyl BCom-student Bryce Pendock 'n derde plek in die 50 m-vryslag behaal het.

Matieswemmers John Maree, Stephano Roodt, Michelle Nieuwstad en Max Kieser het almal ook die finaal in hulle onderskeie items gehaal.