Studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het vandeesweek ʼn nuwe Studenteraad (SR) vir 2017 verkies.
Prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, het die Studenteraad gelukgewens en gesê dat hy uitsien na ʼn jaar van betekenisvolle interaksie met die SR.
"Baie geluk aan die nuutverkose SR en ampsdraers. Die studenteliggaam het sy vertroue in julle geplaas. Dit is ʼn groot verantwoordelikheid, maar ook ʼn goeie geleentheid. Ek is seker julle gaan dit ten volle benut. My kollegas en ek sien uit na ʼn jaar van betekenisvolle interaksie met die SR in die beste belang van ons universiteit en al sy belanghebbendes," het prof De Villiers gesê.
Die SR-verkiesing het van 16 tot 21 Februarie 2017 op die Stellenbosch kampus plaasgevind.
Stembuskonvenor, Dylan Swiegelaar, het gesê dat "alhoewel daar minder studente aan vanjaar se verkiesing deelgeneem het, bedank ek steeds die kampusgemeenskap vir hul deelname".
Die nuutverkose SR-voorsitter, Nomzamo Ntombela, sê sy ervaar 'n "goeie vrees" vir die groot verantwoordelikheid wat nou op haar en die ander SR-lede rus.
"Ek was nog altyd passievol daaroor om verandering binne US-ruimtes te bring. Dít is omdat ek al self die stelsel ervaar het, en weet hoe dit voel as ʼn stelsel teen jou is. Die SR sal dus daarna streef om die aanvaarding van alle mense – veral vroue en gemarginaliseerde groepe – binne US-ruimtes te bewerkstellig.
Hierdie finale jaar BA Geesteswetenskappe-student besef dat die bestuur van SR-verantwoordelikhede en akademiese verpligtinge, uitdagend kan wees. Om dié rede het sy ʼn ondersteuningsnetwerk, bestaande uit mentors, vriende en voormalige SR-lede, vir haarself geskep
"Ek wil ʼn impak maak veral vir vroue van kleur. As ʼn swart vrou, hoop ek om deur my aanstelling as SR-Voorsitter, ander sal kan aanmoedig om hul selfwaarde te besef. Jy kán dit maak. Jy kan oorwin en floreer.