"As jy doen waarvoor jy lief is, werk jy nie 'n dag in jou lewe nie," lui die gewilde gesegde. En dít, sê mev Sonja van Staden, is presies hoe sy oor haar werk voel.
Van Staden werk as persoonlike assistent vir Prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by Universiteit Stellenbosch (US). Haar rol behels dus nie net om 'n besige kantoor te bestuur nie, maar ook skakelwerk met ander FGGW-afdelings om hulle met die nodige ondersteuning en lojaliteit te kan bystaan.
Haar positiewe ingesteldheid is beloon toe sy deur die Departement Psigiatrie genomineer is vir die Toekenning vir Uitnemende Diens aan die Departement deur 'n Individu aan die Universiteit. Luidens 'n verklaring deur die Departement Psigiatrie is Van Staden genomineer omdat sy altyd "vriendelik en vinnig is om te help. Dit is altyd 'n aangename ervaring om met haar te skakel."
Dit wys daarop dat Van Staden haar lewensleuse uitleef: "Ek glo 'n mens moet jou medemens met respek hanteer, al is dit nie altyd maklik nie. Wat jy saai, sal jy maai," sê sy.
Die toekenning is 'n nuwe inisiatief deur Prof Soraya Seedat, Uitvoerende Hoof: Departement Psigiatrie. Dit is ingestel met die doel om erkenning te gee aan personeel vir hul uitmuntende prestasies. Personeel is uitgenooi om individue aan te wys vir onderskeie toekennings. In Van Staden se kategorie was die doel om erkenning te gee aan diegene wat die departement met deurlopende goeie diens ondersteun het. Daar was ses genomineerdes in die kategorie en Prof Martin Kidd, Direkteur vir die Sentrum vir Statistiese Konsultasie, was die uiteindelike wenner. Ander kategorieë het ingesluit toekennings vir vir Gemeenskapsbetrokkenheid- en -dienslewering, Adiministratiewe Uitnemendheid en Uitnemendheid in Navorsing.
Van Staden was uit die veld geslaan oor die nominasie. "Dit het my selfvertroue 'n groot hupstoot gegee. Ek voel opnuut of ek ander met soveel meer kan help." Sy sê sy geniet die organisering- en kommunikasie-aspekte van haar werk die meeste. "Om al die beplande take binne 'n spesifieke tydperk in te pas, is dalk die minste lekker. Ek probeer nog vrede daarmee maak dat baie dinge soms langer neem as wat ek wil hê dit moet neem." Sy laat egter nie toe dat dit haar onderkry nie. Sy sê elke dag kom met sy eie uitdagins en die geleentheid om 'n nuwe lewensles te leer. "Ek word verryk deur my werk en deur die mense."
Van Staden het haar dank uitgespreek aan die Departement Psigiatrie vir die erkenning, asook aan al die mense wat oor haar pad gestuur word en leiding en ondersteuning bied.