Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ambisieuse nuwe projek ‘Predict-TB’ het ten doel om behandelingstydperk te verkort
Outeur: FMHS Marketing Office / FGGW Bemarkingskantoor
Gepubliseer: 15/02/2017

Die huidige behandeling van TB is lank, gekompliseerd om toe te dien en kan ernstige newe-effekte hê. Om ʼn herhaling van die siekte ná die beëindiging van behandeling te verhinder, moet pasiënte wat behandeling ondergaan minstens ses maande lank ʼn kombinasie van verskillende antibiotika drink. Pasiënte doen dit dikwels nie, wat die ontwikkeling van middelweerstandige tuberkulose (MDR) meebring. Behandeling van middelweerstandige TB kan tot twee jaar duur en is nóg komplekser, duurder en toksies. Die duiselingwekkende koste om MDR-TB te genees hou ʼn aansienlike uitdaging vir regerings, gesondheidstelsels en ander betalers in – en talle pasiënte kan steeds nie eens toegang tot behandeling bekom nie. Van diegene wat wel behandeling vir MDR-TB ontvang, oorleef slegs 50%.

Die verkorting van standaardbehandeling is derhalwe ʼn sleutelprioriteit vir huidige TB-navorsing. Vorige studies oor die verkorting van behandeling, gewoonlik tot vier maande, was almal onsuksesvol vergeleke met die standaardbehandeling van ses maande. Behandelingskursusse van ses maande genees 95% van pasiënte en korter kursusse slegs 80-85%. Dit beteken egter steeds dat die meeste pasiënte ná vier maande genees word, maar ons weet tans nie vooraf watter pasiënte aan daardie groep behoort nie. As dit moontlik was om pasiënte te identifiseer wat net vier maande se behandeling nodig het, sou ons die duur van behandeling van die meeste pasiënte kon verkort.

Dít is presies wat die Predict-TB-konsortium wil doen:

Onder leiding van prof Clifton Barry van die US National Institutes of Health en prof Gerhard Walzl van die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika, is die konsortium voornemens om oor die volgende vyf jaar  ʼn stel slim kriteria vir die beëindiging van behandeling te ontwikkel, asook ʼn versorgingspunttoestel om immunologiese merkers te meet wat tot die besluitneming kan bydra. Die groep gaan ʼn ambisieuse fase 2B- kliniese toets in Suid-Afrika en China uitvoer en demografiese, radiografiese, bakteriologiese en immunologiese parameters bekyk om twee sleutelvrae te beantwoord:  

  • kan die pasiënte wat met korter behandeling genees word, geïdentifiseer word? en
  • watter kombinasie van parameters kan hierdie pasiënte ten beste identifiseer?

Hierdie nuwe metode kan, indien suksesvol, ʼn ware spelbreker wees wat behandelingstandaarde sal verbeter van die huidige praktyk van ʼn universele benadering tot presisiegerigte, geïndividualiseerde terapie, wat verkorte behandeling onder ʼn aansienlike groep middelsensitiewe TB-pasiënte moontlik sal maak.

Miljoene pasiënte kan uit ʼn veel korter behandeling voordeel trek. Dit sal nie net hul lewe aansienlik vergemaklik nie, maar die verkleining van die TB-las sal ʼn voordelige uitwerking op die ekonomiese situasie van menige ontwikkelende land hê en minder middelweerstandigheid sal openbare gesondheid op ʼn globale skaal tot voordeel strek.

Die Predict-TB-projek sal finansiering van meer as €20 miljoen van die European & Developing Countries Clinical Trials Partnership, die Bill & Melinda Gates-stigting deur die Foundation for the National Institutes of Health, die National Institutes of Health, die National Science Foundation of China (NSFC) en die Chinese Ministerie van Wetenskap en Tegnologie (MOST) ontvang.