Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste kortkursus in waterbestuursvaardighede
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 13/02/2017

'n Groep van 25 munisipale amptenare en opvoeders van kolleges vir tegniese beroepsonderrig en -opleiding in die Wes-Kaap, het verlede week die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste kortkursus in waterbestuur vir leiers in die watersektor bygewoon.

Hierdie kursus wat deur die US Waterinstituut (USWI) in vennootskap met die US Skool vir Publieke Leierskap (SPL) aangebied is, is spesifiek vir munisipale raadslede en amptenare ontwikkel deur die SPL se prof. Erwin Schwella, in samewerking met verskeie eksperts in die watersektor.

Volgens prof. Schwella verbind die kursus die velde van leierskapsontwikkeling, waterbestuurspraktyke en leierskapsinnovasies in openbare instellings wat water verskaf deur middel van vergelykende en relevante gevallestudies.

Hierdie kursus wat by die US geregistreer is en 9 krediete op vlak 8 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk het, het vanaf 6 to 10 Februarie 2017 plaasgevind.

Munisipale amptenare van Hessequa, George, Knysna, Swellendam en die stad Kaapstad se onderskeie munisipaliteite het die kursus bygewoon, sowel as opvoeders van Boland Kollege, Suid-Kaap Kollege, Northlink Kollege. Verteenwoordigers van verskeie nieregeringsorganisasies en klein tot medium- grootte ondernemings wat in die watersektor sake doen, het dit ook bygewoon. 'n Afgevaardigde van die afdeling vir beleid en regulering van die Departement van Water en Sanitasie het as waarnemer dit bygewoon.

Gedurende die week is 'n klasgebaseerde groepsprojek afgehandel en aan die einde van die week het deelnemers 'n eksamen afgelê. Elke deelnemer moet nog aan die einde van Februarie 'n werkstuk inhandig, waarna suksesvolle kandidate elk 'n sertifikaat van bevoegdheid sal ontvang.

'n Paneel van spesialiste in die waterindustrie het ook die deelnemers toegespreek. Hulle was: dr. Thokozani Kanyerere, senior lektor in hidrologie by die Instituut vir Waterstudies by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), prof. Jaqui Goldin, buitengewone professor in antropologie en waterwetenskap by UWK, me. BD Hene, direkteur: beleid en regulering in die Departement van Water en Sanitasie (DWS), en mnr. George Tsibane, konsultant en voormalige hoofdirekteur in die DWS. 

Mnr. Errol Gradwell, hoofuitvoerende beampte van EWSETA, die opvoeding- en opleidingsowerheid vir die energie- en waterdienstesektor, het die kursus se openingsrede gelewer.  

Volgens mnr. Manuel Jackson, projekbestuurder by USWI, is hulle in vennootskap met EWSETA ook besig met die ontwikkeling van 'n beroepskwalifikasie. Hierdie kwalifikasie word ontwikkel volgens die voorskrifte van die kwaliteitsraad vir ambagte en beroepe, ook bekend as QCTO.

"Kolleges vir tegniese beroepsonderrig en -opleiding kan 'n sleutelrol speel in kapasiteitbou in die watersektor, spesifiek in 'n afdeling hiervan wat van kritieke belang is soos die behandeling van afvalwater," voeg hy by.

Die volgende kortkursus vind van 8 tot 12 Mei 2017 by die Saldanha Munisipaliteit plaas. Vir inligting oor komende slypskole en kortkursusse kontak me. Katherine Morris by kmorris@sun.ac.za of 021 808 9453.