Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNSEP in die Noord-Kaap met onderwyserklinieke
Outeur: Anneke Müller
Gepubliseer: 10/02/2017

Die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) het vanaf 3-5 Februarie ondersteuningsklinieke aan sowat 300 Graad 12 en beginner Graad 12-onderwysers in Lewenswetenskappe, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe in die Noord-Kaap aangebied.

Mnr Henry Willemse, die Direkteur van die VOO-kurrikulum-afdeling van die Noord-Kaapse Departement van Onderwys (NKOD) het die groep Vrydagoggend by Elizabeth Conradie-skool in Kimberley verwelkom.

Daarna is die groep deur mev DG Sibiya, Hoofdirekteur van Kurrikulumbestuur en –lewering toegespreek. Sy het bevestig dat die NKOD 'n verdere verbetering in hul provinsie se matriekslaagsyfer wil sien. Die provinsie se slaagsyfer was in 2016 78,7%; 9 persentasiepunte meer as die 69,4% in 2015.

Sy het voorts verduidelik dat Voortgesette Professionele Onderwyserontwikkeling van die Departement die basis vorm van 'n geïntegreerde diensleweringsprogram en dat hulle die algehele leerderprestasie vanaf Graad R tot 12 wil verbeter.

Die 2016 Diagnostiese Verslag van die Departement van Basiese Onderwys het spesifieke temas geïdentifiseer waarmee die leerders in die afgelope NSS-eksamen probleme ervaar het. Hierdie naweek se klinieke was deel van die NKOD se poging om onderwysers te ondersteun om van hierdie uitdagende temas in Wiskunde, Lewens- en Fisiese Wetenskappe te onderrig.

SUNSEP-personeellede, wat die sessies gefasiliteer het, het die onderwysers verder gehelp deur goeie onderrigpraktyk in die drie genoemde vakke te modelleer, strategieë daar te stel om hulle te help om die kurrikulum doeltreffend te bestuur en effektiewe skoolgebaseerde assesseringspraktyke te ontwikkel.  In Lewens- en Fisiese Wetenskappe is die noodsaaklikheid van praktiese werk ook aangespreek.

"Die onderwysers het beslis voordeel getrek uit die klinieke, "sê mnr Bobby Kunnath, Fisiese Wetenskappe-koördineerder van die NKOD. "Die verskil in die uitslae van die pre en post-toetse [wat die onderwysers geskryf het], het reeds getoon dat daar 'n verbetering in hul begrip van die onderwerpe plaasgevind het. Ons is dus baie gelukkig oor hierdie naweek se sessies."

Dit is beaam deur mnr Emanual Cloete, Fisiese Wetenskappe onderwyser van Hoërskool Concordia in die Namakwa-Distrik.

"Dit was 'n baie leersame ervaring. Wat soos 'n paal bo water uitgestaan het, was die passie en kundigheid van die aanbieders. Hulle het ons met hul aansteeklike entoesiasme inspireer om met nuwe oë na Fisiese Wetenskappe te kyk. Ek was so opgewonde dat ek Maandag-oggend … van die eksperimente kom uittoets het. [Die leerders] was in die wolke en wil nou hê ons moet elke dag iets doen."

Benewens die vakspesifieke kursusse, het 35 kringbestuurders en hoofonderwyskundiges ook vanaf 30 Januarie tot 3 Februarie 2017 deelgeneem aan 'n SUNSEP Leierskap- en bestuurskursus.

Hierdie kursus het ten doel gehad om die ondersteuningsvaardighede van die kringbestuurders in hul skole uit te bou. Die kursus is ook nou gekoppel aan die onderwysdoelwitte soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP). Dit sluit aspekte in soos die gebruik van skole as sentrums vir en in die gemeenskap en om ingeligte besluite na aanleiding van data-ontleding te kan neem. 

Op die foto is vlnr, almal Fisiese Wetenskappe onderwysers:  Me Roxanne Kotze van Hoërskool Danielskuil, Mnr DanLee Pienaar van Hoërskool Veritas (De Aar), Me Sharlene Bruintjies van Hoërskool Blinkklip,  Me Nicolette Willemse van Hoërskool Kuilsville en Me Mariza Thiro van Hoërskool Groblershoop.