Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorser se program help bestuur angs in kinders met visuele gestremdhede
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/02/2017

Angs is die mees algemene sielkundige probleem onder jongmense wêreldwyd, met  gemiddeld 12% van skoolgaande kinders wat na berig word beduidende simptome van angs ondervind. Hierdie statistiek is veral belangrik in terme van kinders met visuele gestremdhede omdat hulle na wat berig word meer as hul siende eweknieë geneig is om sielkundige probleme, insluitend angs, te ontwikkel.

"Om hierdie rede is dit belangrik om dié kinders met die nodige vaardighede en strategieë toe te rus ten einde gevoelens van angs te hanteer wanneer dit ontstaan; en só die begin van volslae angsversteurings te verhoed," sê dr Lisa Visagie wat onlangs haar doktorsgraad in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Haar studieleiers was professore Helene Loxton en Leslie Swartz van die US se Departement Sielkunde. Visagie beplan om na- doktorale navorsing  aan die US te doen.

Visagie het ʼn spesifieke angs-intervensieprogram vir Suid-Afrikaanse kinders met visuele gestremdhede ontwikkel, geïmplementeer en geëvalueer.

Twee en vyftig kinders tussen die ouderdomme van 9 en13 jaar met wisselende grade van visuele gestremdheid by twee spesiale skole in die Wes-Kaap het aan die angs-intervensieprogram deelgeneem wat spesifiek op hul behoeftes gefokus het. Hulle was oor tydperk van tien maande gemoniteer waartydens hul angssimptome by verskeie intervalle geëvalueer is.

Visagie sê elke kind het 'n sagte speelgoed-hondjie ontvang wat haar eerste gidshond* PAM verteenwoordig het. PAM staan vir 'Positief en Motiverend' is ook die naam van die intervensieprogram.PAM hondjie met charms.JPG

Sy noem dat die speelgoed-hondjie vir die duur van die program 'n halsband met agt gelukbringertjies om sy nek gehad het om kinders te herinner aan die beduidende stappe en vaardighede wat hulle gedurende die program se 10 sessies geleer het.

"In plaas daarvan om ʼn werkboek en geskrewe aktiwiteite aan te wend om kinders Kognitiewe Gedragsterapie (KGT)-vaardighede te leer, het die program 'n tasbare sagte speelgoed-'gidshond' gebruik wat kinders kon vashou en voel. Ek het die metafoor van 'n gidshond gekies omdat ek gedink het dit 'n bekende simbool sou wees vir kinders met visuele gestremdhede."

"Kinders is praktiese vaardighede geleer om hulle te help om hul gevoelens te identifiseer; om te leer ontspan; om nuttelose gedagtes te identifiseer en dit met meer nuttige gedagtes te vervang; en hoe om daaglikse probleme en uitdagings in die gesig te staar en te oorkom. Hierdie verskeidenheid vaardighede om angs te hanteer het kinders van 'n emosionele gereedskapskissie voorsien wat hulle in hul alledaagse lewens kan gebruik."

Visagie sê die resultate toon dat die PAM-program belofte inhou vir die voorkoming van die ontwikkeling van angssimptome in kinders met visuele gestremdhede.

"Geen kinders wat sub-kliniese simptome van angs voor die begin van die PAM- program getoon het, het ná die program na die kliniese reeks (kinders wat met angsversteuring gediagnoseer word) geskuif nie. Ek glo dus dat met die nodige organisatoriese ondersteuning en kontekssensitiwiteit die PAM-program realisties gebruik kan word om veerkragtigheid te verhoog en bewustheid rakende angs as 'n belangrike geestesgesondheidskwessie in kinders met visuele gestremdhede te bevorder."

"Die opwindende aspek is dat die PAM-program ook nuttig kan wees vir byvoorbeeld, kinders wat ongeletterd is of diegene met leerprobleme aangesien daar nie van kinders nie verwag word om enige materiaal te lees ten einde by die program se inhoud te baat nie."

Visagie sê haar program probeer verbeter op bestaande KGT-intervensies wat ten spyte van sukses in die behandeling van kinders met angs ongelukkig is nie geskik is vir kinders met visuele gestremdhede nie omdat die inhoud daarvan (strokiesprente, inkleurprente, ʼn werkboek en visuele-gebaseerde aktiwiteite) en wyse van aanbieding nie baie toeganklik is vir kinders met visuele gestremdhede nie.

"Ek hoop dat in die toekoms die PAM-program uitgebrei kan word om meer kinders wat dit nodig het te bereik en te help."

*Visagie sê die PAM-program word opgedra aan die werklike PAM, haar eerste gids- hond (7 Oktober 2002 tot 25 Februarie 2015) wat die inspirasie was vir die metafoor onderliggende aan die PAM-program. "PAM het my lewe op so baie positiewe wyses verander en ek hoop dat haar nalatenskap deur middel van die PAM-program en -metafoor voortgesit kan word."

  • Foto 1: Dr Lisa Visagie saam met haar gidshond by die Desember-gradeplegtigheid.
  • Foto 2: Die speelgoedhondjie wat tydens die intervensie gebruik is.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Lisa Visagie

Sel: 082 456 4622

E-pos visagie.lisa@gmail.com