Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kanker verg 'n gesamentlike poging
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 03/02/2017

ʼn Gesamentlike poging van lande se leiers, staatsbeamptes, kankerkampvegters, gemeenskappe en individue is nodig om die groeiende kankerepidemie een voor te bly. 

Só het prof Vikash Sewram, direkteur van die Afrika-kankerinstituut van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US), gesê aan die vooraand van Wêreldkankerdag op 4 Februarie met die tema: "Ons kan, Ek kan". 

"Wêreldkankerdag het ten doel om bewustheid oor kanker te verhoog en die voorkoming, opsporing en behandeling daarvan aan te moedig ter ondersteuning van die 2008-Wêreldkankerverklaring, waarin ʼn beroep op regeringsleiers en bepalers van gesondheidsbeleid gedoen word om die globale kankerlas aansienlik te verklein, groter gelykheid te bevorder en kankerbeheer in die wêreldgesondheids- en -ontwikkelingsagenda te integreer."

Die nuutste statistieke onthul dat meer as 60 000 Suid-Afrikaners in 2011 met kanker gediagnoseer is. Die algemeenste kankers onder mans was prostaat-, long- en kolerektale kanker, terwyl die topdrie kankers onder vroue bors-, servikale en kolorektale kanker was.  

"Kanker het ʼn groot gesondheidsimpak op die Suid-Afrikaanse bevolking en die streek. Derhalwe is die identifisering en voorkoming van kankerrisiko, asook vooruitgang in vroeë opsporing en behandeling, ontluikende nasionale gesondheidskwessies wat na behore gepak moet word om die lewensgehalte en -verwagting van Suid-Afrikaners en inwoners van die kontinent te verbeter," sê Sewram. Hy meen die versterking van die gesondheidsektor se vermoë, die verbetering van toegang tot behandeling en steundienste, navorsing en ontwikkeling is die sleutel tot enige sukses om die groeiende kankerepidemie te verstaan en hok te slaan. 

Die meeste kankers is behandelbaar en sommige kan genees word. Tóg neem die kankerkoers in Afrika toe en word sowat 1,3 miljoen nuwe gevalle teen 2030 verwag, bloot weens ʼn verouderende bevolking.

"Daar is reuse-ongelykhede in gesondheidshulpbronne (infrastruktuur, menslike hulpbronne, toegang tot behandeling, en so meer) wat bevolkings in Afrika, insluitend Suid-Afrika, uiters kwesbaar maak wat betref die ontwikkeling en behandeling van kanker. Meer navorsing is voorts in Afrika nodig om beter inligting beskikbaar te stel vir beleid en praktyke wat tot die verskillende lande relevant is," sê Sewram. 

Die Afrika-kankerinstituut het ʼn sleutelrolspeler in die globale stryd teen kanker geword danksy sy verbintenis tot navorsingsuitnemendheid, ʼn toegewyde en geïnspireerde fakulteit en robuuste vennootskappe met wêreldbekende navorsings- en opeidingsinstellings en met kampvegter- en steungroepe. Hierdie vennootskappe het verseker dat die beste intellekte saamwerk om hoop vir kankerpasiënte en hul families wêreldwyd te bring. 

Die sleutelboodskappe vir Wêreldkankerdag wat uit die tema "Ons kan, Ek kan" voortspruit, is: 

1. Maak gesonde keuses

2. Leer oor vroeë opsporing en wees waaksaam wat sifting betref

3. Vra ondersteuning en ondersteun ander

4. Wees myself en neem beheer van my reis

5. Deel my storie en sê my sê

Wat kan Ons doen:

1. Kanker voorkom

2. Optrede inspireer en self optree

3. Persepsies uitdaag en gesonde omgewings skep

4. Toegang tot sorg verbeter

5. ʼn Kankerwerkmag van gehalte bou en netwerke mobiliseer om vooruitgang te stu

6. ʼn Saak uitmaak om in kankerbeheer en die vorming van beleid te belê

7. Saamwerk vir ʼn groter impak