Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe basketball-afrigters sluit by Maties Sport aan
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 31/01/2017

Basketbal by die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n hupstoot gekry met die aanstelling van twee nuwe afrigters.

Kimathi Toboti, afrigter van die SA Senior vrouespan, en Masibulele Ntlali, afrigter van die SA o.21-span, het by Maties Sport aangesluit as die nuwe breiers van onderskeidelik die vroue- en mansspan.

Hulle sien uit na 'n nuwe uitdaging in 'n ander omgewing en is opgewonde oor die hoëprestasie-aspek van basketbal by die US. Basketbal het sy eerste hupstoot ontvang toe dit verlede jaar as een van die hoëprestasie-sportkodes by Maties Sport geïdentifiseer is.

"Die resultate wat Maties tot dusver behaal het, was tot 'n groot mate te danke aan potensiaal en talent. Die span sal baie baat by die bykomende hoëprestasie-element," sê Ntlali.

In 2016 het Maties Basketbal se mansspan sesde (uit 16) spanne geëindig in sy eerste USSA-toernooi en gekwalifiseer vir die Varsity Sports-toernooi.

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, sien uit na die geleenthede en moontlikhede wat deur basketbal by die US gebied word.

"Ons visie is om sterk te wees op alle vlakke. Dit is hoekom julle hier is," het sy aan Toboti en Ntlali gesê. "Julle is deel van die verandering. Afrigters is noodsaaklik vir die sukses van enige sportkode en ons soek altyd nuwe kundigheid."

Sean Surmon, hoof van die Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid), is baie opgewonde oor die nuwe ontwikkelings by basketbal en glo dat hierdie veranderings 'n sterk boodskap stuur oor hoe ernstig Maties oor die sportkode voel.

"Die ondersteuningstruktuur beskikbaar aan alle HP-sportkodes sal tot basketbal se sukses bydra," meen Ntlali.

"Ons werk aan 'n program wat mense se lewe sal verander en 'n impak op die breër basketbalgemeenskap sal hê."

Volgens Toboti beoog hulle om te verseker dat Maties Basketbal een van die beste klubs in die land word.