Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
IPB-afvaardiging woon SAGP-konferensie by
Outeur: C van der Vyver
Gepubliseer: 18/01/2017

Akademiese personeellede en nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) het vroeg in Januarie 2017 die 43ste jaarkonferensie van die Suid-Afrikaanse Genootskap van Plantkundiges (SAGP) by die Lagoon Beach-hotel in Milnerton aan die Kaapse Weskus bygewoon. Wetenskaplikes van oor die hele Suid-Afrika sowel as verskeie internasionale kollegas met 'n belangstelling in plantgebaseerde navorsing het by die konferensie byeengekom. Onderwerpe soos plantsistematiek, ekologie, plantontwikkeling, fotochemie, plantfisiologie, indringerbiologie en biotegnologie is in die loop van die geleentheid bespreek. 

Die SAGP-konferensie word beskou as 'n ideale forum vir nagraadse studente om hulle aanbiedingsvaardighede te slyp, hulle werk met dié van hulle portuur aan ander Suid-Afrikaanse universiteite te vergelyk, en hulle van die huidige tendense in wetenskaplike proefmetodologie te vergewis. Ses nagraadse IPB-studente op van honneurs- tot PhD-vlak het hulle proefondervindelike werk van die afgelope jaar of twee van hulle akademiese grade aangebied. Die aanbiedings het meestal oor plantbiotegnologie gehandel, en het 'n plakkaataanbieding deur Pedri Claassens en mondelinge aanbiedings deur Ingrid Jacobs, Hanno Loubser, Malira Masoabi, JJ Fernout en Dominic Vogel ingesluit. 'n Sewende IPB-lid, nadoktorale genoot dr Bianke Loedolff, het ook 'n praatjie gelewer oor die verbetering van voedingsekerheid deur die fitochemiese verryking van mikro-saailinge.

Daarbenewens is die IPB se dr Paul Hills by die afsluitingsgala as die nuwe SAGP-voorsitter aangewys. Hy sal vir 'n termyn van twee jaar tot Januarie 2019 as voorsitter van die genootskap dien. Dr Hills, wat by die konferensie 'n spreker was oor die uitwerking van lumichroom op plante, is 'n plantmolekulêre fisioloog wat navorsing onderneem oor plantreaksies op omgewingseine en hoe dít plantgroei en -ontwikkeling op 'n molekulêre vlak reguleer. Voor sy huidige amp het dr Hills vir vyf jaar as tesourier in die SAGP-raad gedien. Ons wens hom geluk met sy aanstelling, en alle sukses met sy nuwe verantwoordelikhede.  

artikel photo.png