Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee akademici van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang Kanseliersmedaljes
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 11/01/2017

Twee akademici van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, professors Ronel du Preez en Servaas van der Berg, is by die Desember-gradeplegtigheid met die Universiteit Stellenbosch se hoogste eerbewys, die Kanselierstoekenning, vereer.

Professor Ronel du Preez, die Fakulteit se visedekaan: leer en onderrig, het die Kanseliersmedalje ontvang vir haar akademieskap en hervorming in leer en onderrig, sowel as haar leierskap in beide die Fakulteit en die Universiteit.

Haar prestasies sluit die inisiёring en implementering van die volgende in: die vier jaar lange program BCom (Internasionale Besigheid), die OPTIMUS ko-kurrikulêre ontwikkelingsprogram vir die Fakulteit se top voorgraadse studente, en die dekaanslys, wat formele erkenning verleen aan studente se prestasies in voorgraadse modules in alle fakulteite.

Prof Du Preez se strewe na innoverende maniere om inligting en kommunikasietegnologie (IKT) in leer en onderrig te gebruik, tesame met haar akademiese kennis van verbruikersielkunde, het onder meer gelei tot die ontwerp van die vindingryke "studentambassadeursprogram". In dié program word sosiale media gebruik om voornemende studente met huidige Maties te verbind ten einde akkurate inligting oor studieprogramme en die Stellenbosse studentervaring met mekaar te deel.

Professor Servaas van der Berg, 'n uitgelese professor in Ekonomie, het die Kanseliersmedalje ontvang vir sy navorsing en invloed op beleid. Hy het 'n wesenlike invloed op die onderwysekonomie en ekonomiese beleid in Suid-Afrika.

As professor in Ekonomie en, vanaf 2008, bekleёr van die SARChI-navorsingstoel in die ekonomie van sosiale beleid, het prof Van der Berg 'n besonder invloedryke navorsingsprogram oor die ekonomie van onderwys ontwikkel. Dit is baseer op die ontleding van data, wat meestal nie beskikbaar was totdat hy en sy groep die data genereer en vir wyer gebruik beskikbaar gestel het nie.

Hy was ook nou betrokke by ekonomiese beleidsbesprekings gedurende die land se politieke oorgangsfase, en is steeds 'n invloedryke deelnemer aan beleidsbesprekings. As gerekende internasionale navorser, plaas die globale databasis RePEc, wat die navorsing van meer as 48 000 ekonome wêreldwyd ontleed, hom heel bo-aan die ranglys van alle Suid-Afrikaanse ekonome wat plaaslik werk.

Prof Van der Berg is voorts die eerste persoon van Afrika wat deur die Internasionale Akademie van Onderwys vereer is met 'n genootskap. Een van sy hoogs gerespekteerde referente het onlangs opgemerk: "Die afgelope vyf jaar was en is daar steeds, geen ander akademici in die Suid-Afrikaanse omgewing wat so 'n direkte invloed uitoefen op [die ekonomiese en sosiale] beleidsdenke nie."

  • Professors Ronel du Preez en Servaas van der Berg, ontvangers van die Kanselierstoekenning, by die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Stan du Plessis.