Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vriende van die Botaniese Tuin
Outeur: Viola Calitz
Gepubliseer: 11/01/2017

Die Vriende van die Botaniese Tuin-inisiatief is op 1 Desember 2016 aan die breër Stellenbosch-gemeenskap bekendgestel. Die doel van hierdie inisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US) se Botaniese Tuin is om die aktiwiteite van die Tuin te ondersteun deur middel van vrywilligersdiens, fondsinsameling en funksionering as 'n advieskomitee.

Vriende van die Botaniese Tuin is formeel in Maart gestig en me Catherine de Villiers, die eggenote van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het onlangs 'n uitnodiging aanvaar om die inisiatief se eerste beskermvrou te word.

"Met die stygende druk op tersiêre instellings, het dit noodsaaklik geword om meer selfonderhoudend te wees en te verseker dat die Botaniese Tuin ook in die volgende eeu kan floreer. Omdat die Botaniese Tuin so naby aan die besige dorpskern geleë is, is daar ook 'n groeiende behoefte om te verseker dat die Tuin 'n vreedsame en veilige gemeenskapsaamtrekpunt bly, en daarom is daar besluit om in 2017 te begin om 'n nominale toegangsfooi te vra," sê mnr Smit.

Lede van die publiek kan ook Vriende van die Botaniese Tuin word. Lidmaatskapkaarte sal in die Botaniese Tuin se winkel teen R50 vir basiese lidmaatskap verkoop word. Lede sal 'n vaste aantal besoeke (365) per jaar kry en persone wat hulle vergesel sal toegelaat word om verniet onder hulle lidmaatskap toegang tot die Botaniese Tuin te verkry. Studente en personeel van die Universiteit kry outomatiese lidmaatskap en hulle besoeke sal op hulle personeel- of studentekaarte gelaai word. Nielede sal 'n toegangsfooi (R10) moet betaal, waarvan 'n deel (R5) terugbetaal sal word vir enige aankope by die winkel of restaurant. Groepe wat voorafreëlings maak, soos skoolgroepe, sal steeds toegelaat word om die Botaniese Tuin gratis te besoek. Vriende van die Botaniese Tuin sal ook uitnodigings na spesiale geleenthede en praatjies ontvang.