In 2016 het 293 Graad 12-leerders in die Wes- en Noord-Kaap aanvullende onderrig in Wiskunde, Rekeningkunde en Fisiese Wetenskappe ontvang as deel van die HOPE@Maties-program. Hierdie program, 'n eerste geleentheid universiteitvoorbereidingsprogram, word aangebied deur SUNSEP, die Sentrum vir Pedagogie by Universiteit Stellenbosch (US).
In die Wes-Kaap was 236 leerders deel van die program. Nege en dertig persent (39%) van hulle het die NSS-eksamen met onderskeiding geslaag. Die algehele gemiddelde van die groep was 77,9%. Nege en twintig persent (29%) van die leerders het onderskeidings in Wiskunde verwerf, terwyl 33% onderskeidings in Fisiese Wetenskappe behaal het. In beide hierdie vakke was die vakgemiddeld 71,9%. In Rekeningkunde was die vakgemiddeld van die groep 81,8% en 64% van die deelnemers het onderskeidings behaal.
In die Noord-Kaap was die groep se algehele gemiddeld 79,6%. In Fisiese Wetenskappe was dit 76,9% en in beide Wiskunde en Rekeningkunde was die gemiddeld 80%. Net minder as die helfte van die groep (49%) het die NSS-eksamen met onderskeiding geslaag; 58% van die groep met onderskeidings in Wiskunde, 40% met onderskeidings in Fisiese Wetenskappe en 56% in Rekeningkunde.
Hierdie leerders kan uiteraard by enige inrigting vir hoër onderwys inskryf. Die meeste van hulle het egter reeds US gekies.
Dr Trevor van Louw, Direkteur van SUNSEP en die persoon wat 'n paar jaar gelede die program begin het, het gesê die sukses van HOPE@Maties kan toegeskryf word aan "[die] toewyding van die leerders en die volgehoue ondersteuning van hul ouers, skoolhoofde, onderwysers en tutors, amptenare van die twee betrokke onderwysdepartemente asook die SUNSEP-tutors. Ons is baie trots op die prestasie van hierdie groep. Baie geluk aan almal van hulle".
Leerders met 'n gemiddeld van meer as 70% aan die einde van Graad 11 word deur hul skole of onderwysdistrikte uitgenooi om vir hul Graad 12-jaar deel van hierdie program te word. Gedurende die hele matriekjaar woon hierdie leerders vakansieskole by. Die beste onderwysers in die verskillende streke word deur die departemente genomineer om die bykomende onderrig aan die leerders te bied.
Met die hulp van die afdeling vir studentewerwing by die US word die leerders in hierdie program bygestaan om ingeligte loopbaankeuses te maak en om betyds aansoek te doen vir universiteitstoelating.
Leerders wat nie die voldoende resultate behaal het vir hoër onderwys nie, of diegene wat beter resultate nodig het om in ag geneem te word vir keuringskursusse soos medies, ingenieurswese of kursusse in ander fakulteite, mag aansoek doen om SciMathUS, SUNSEP se tweede geleentheid universiteitvoorbereidingsprogram by te woon. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 22 Januarie 2017.
Vir meer inligting oor hierdie twee programme, besoek gerus die sentrum se webwerf http://www.suncep.sun.ac.za of skakel ons by 021 8083030/2301/3483.
Foto: Nege voormalige HOPE@Maties deelnemers saam met Mnr Lynthon Jacobs, progambestuurder by een van die US EBW-gradeplegtigheid in Desember 2016.