Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Finansiële steun help om drome van graad kry waar te laat word
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 19/12/2016

Uit die meer as 5 300 voorgraadse studente wat hul welverdiende grade tydens die Desember 2016 gradeplegtighede van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, is daar altesaam 1 981 (volgens die US se rekords) vir wie dit moontlik was danksy finansiële steun in die vorm van beurse, beurslenings of lenings.

Volgens me Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge, die Afdeling wat verantwoordelik is daarvoor om fondse vir die Universiteit te werf, bly onderwys die beste manier om die kringloop van armoede te breek.

"Dit is werklik bevredigend om te sien hoe die studente se drome van 'n beter toekoms verwesenlik word omdat besighede, stigtings en individue besluit het om hulle swaarverdiende geld in hoër onderwys te belê.

"Toegang tot befondsing vir hoër onderwys bly deel van die nasionale gesprek in Suid-Afrika, en dit is baie belangrik dat ons onsself beywer daarvoor om die broodnodige finansiële steun vir ons studente te verkry om hulle op hierdie manier te help om hulle grade te verwerf. Dit is juis vir hierdie rede dat die instelling só 'n sterk klem op die werwing van beurse plaas as 'n manier om te help om die finansiële las te verlig," voeg sy by.

Volgens Bruns, werk die US reeds onverpoos om studente wat finansieel behoeftig is te help en sal hul volhou om dit in die voorsienbare toekoms te doen. "Vanjaar het die Universiteit meer as R588 miljoen in beurse aan voorgraadse en nagraadse studente geadministreer. Hierdie bedrag word opgemaak uit eksterne fondse, erflatings, skenkings en R145 miljoen uit die Universiteit se hoofbegroting. Ten spyte hiervan kry die beraamde 12 500 studente uit die "verlore middelgroep", of "missing middle", steeds finansieel swaar, wat lei daartoe dat hulle nie behoorlik op hulle studies kan fokus nie."

Volgens prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van US: "Om 'n blink toekoms vir ons almal in Suid-Afrika te verseker, is dit nodig dat ons die aantal suksesvolle graduandi drasties vermeerder. Ons kan dit nie vermag sonder om beter steun aan lae-inkomste studente en studente wat onderverteenwoordig in hoër onderwys is te bied nie – en dit is die oorgrote meerderheid studente in ons land. Baie van hierdie studente het nie die geld om kop bo water te hou nie. Beurse kan, as dit strategies bestuur word, graduandi-sukses en 'n beter lewe vir meer studente moontlik maak, en hierdeur, families, gemeenskappe en ons land in geheel tot voordeel strek."

Hy voeg by: "Wie is die jong Suid-Afrikaners wat uiteindelik voordeel trek uit 'n skenking aan die Universiteit Stellenbosch? Die toewyding van ons studente is altyd vir my 'n inspirasie: die jong vrou van Limpopo wat haar studies voortsit al sien sy haar familie slegs een keer 'n jaar, die jong man van Bonteheuwel wat by sy werklose ouers bly en elke dag vier ure op treine spandeer omdat hy bitter graag 'n beter toekoms wil hê, en die jong vrou van Randburg wie se pa hulle gesin jare gelede agtergelaat het, maar wat haar ma belowe het dat sy 'n beter toekoms vir haar en haar sibbes sal skep. Die minste wat ons kan doen is om aan hulle 'n helpende hand te bied."

  • Fotograaf: Stefan Els