Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Farai Mubaiwa ontvang gesogte leierskaptoekenning van Britse koningin
Outeur: Anina Visser
Gepubliseer: 14/12/2016

​Me Farai Mubaiwa, 2016 Studenteraadslid vir Vrouebemagtiging aan die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs aangewys as ʼn ontvanger van die prestigeryke Queen's Young Leader-toekenning (QYL) vir 2017.

Twee ander Suid-Afrikaners, Aditi Lachman en Chantelle De Abreu, is ook onder die 60 ontvangers van vanjaar se QYL-toekennings. Die toekennings gee erkenning aan en vier jong leiers van regoor die Statebond wat verantwoordelikheid neem om hul gemeenskappe te transformeer en te verbeter.

Ontvangers van die gesogte QYL-toekenning ontvang ʼn kombinasie van opleiding en mentorskap wat ʼn weeklange besoek aan die VK insluit waartydens die Britse Koningin die toekennings aan hulle sal oorhandig. 

Mubaiwa het die toekenning ontvang vir haar werk met Africa Matters en die #EndRapeCulture-veldtog wat sy by die US gedryf het. "Africa Matters is daarop gefokus om jong Afrikane se denkwyses te dekolonialiseer, die Afrika-narratief te verander en platforms te skep vir Afrikane om met mekaar in gesprek te tree," het Mubaiwa verduidelik. "#EndRapeCulture is ʼn landswye veldtog wat daarop gemik is om die verkragtingskultuur en patriargie te beëindig."

Mubaiwa sê sy het uitgevind dat sy die toekenning ontvang het op dieselfde dag dat haar jonger suster, Nopi Mubaiwa, matriek aan die Heron Bridge College in Johannesburg voltooi het. Dit was dus ʼn dubbele geleentheid vir feesvier in die Mubaiwa-familie.

Nopi, wat haar universiteitsloopbaan volgende jaar aan die US begin, sê sy is verskriklik trots op haar suster omdat sy soveel bereik het gedurende haar vier jaar op Universiteit en altyd getrou aan haarself gebly het. "Sy is so ʼn inspirasie en dit is wonderlik om my suster as rolmodel te hê."

Mubaiwa sê dat jong leiers geleenthede moet aangryp en nie hul werk in gemeenskappe as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Aan alle jong leiers in Suid-Afrika sê sy: "Wees altyd op die uitkyk vir groeigeleenthede vir jouself en vir ander en betrek ander in jou netwerke. Dit dien geen doel om netwerke tot jouself te beperk nie. Om ander in jou netwerke te laat deel, maak dat ander ook ʼn impak kan maak."

Mubaiwa hoop gevolglik dat die QYL-toekenning haar die platform sal bied om nog netwerke te skep. "Die enigste ding wat swart vrouens van ander mense skei, is geleentheid ," sê sy. "En ek hoop die toekenning my in staat sal stel om ander swart vrouens nuwe geleenthede te bied."