Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingenieurswese ‘is ‘n spansport’, sê topstudent
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 12/12/2016

​Marina Kamper en Jana Rossouw, wat onderskeidelik hul BIng-graad cum laude geslaag het in Meganiese- en Megatroniese ingenieurswese, is die top voorgraadse studente in hul departemente. Marina het 'n finale gemiddeld van 85.5% behaal terwyl Jana met 'n 80.6%-gemiddeld geslaag het.

Kamper en Rossouw, wat beide op Woensdag 7 Desember graad gevang het, sê hulle is "dankbaar en trots" om in hul onderskeie velde te presteer, veral omdat ingenieurswese 'n veld is waarin oorwegend mans werk.

"Mense neem dikwels aan dat jy nie so vaardig soos hulle is nie," sê Kamper. "En dit is frustrerend, want ons werk baie hard. Ek dink ons prestasie is goeie ding, want dit wys dat vroue net so in staat is om die werk te doen."

Kamper is nie die eerste ingenieur in die familie nie - haar pa Maarten Kamper is 'n professor by die US se Elektriese en Elektroniese-ingenieurswese departement, terwyl haar broer Herman pas sy PhD in Informatika voltooi het nadat hy sy Elektroniese Ingenieurswese-graad aan die US verwerf het. 

Rossouw sê dit is noodsaaklik om goeie verhoudings te bou om sukses te behaal, tesame met harde werk en deursettingsvermoë.

"Maak goeie vriende, dit is van kardinale belang!" sê sy. "Ek sê altyd dat Ingenieurswese 'n spansport is - ons sou dit nooit sonder ondersteuning kon doen nie." Kamper oorweeg dit om haar studies voor te sit by die Universiteit Kaapstad, terwyl Rossouw aanstaande jaar vir haar beursmaatskappy Denel Dynamics in Centurion gaan werk. 

Foto: Marina Kamper (links) en Jana Rossouw (regs). Fotograaf: Stefan Els.