Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer vier rolmodelle met eregrade
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 09/12/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) het vandag (9 Desember 2016) vier eregrade tydens die negende en laaste plegtigheid van die US se Desember Gradeplegtighede toegeken. Hierdeur gee die US erkenning aan uitnemendheid op ʼn verskeidenheid vakterreine en identifiseer sulke individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap.

Die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, is toegeken aan die meningsvormer, bemiddelaar en versoeningsagent, dr Franklin Sonn; die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, aan die sakeleier, dr Johan van Zyl; die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, aan die Namibiese politikus en "vredesmakelaar", mnr Dirk Mudge; en die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, aan die baanbreker in rekenaarwese, satelliet-tegnologie en die ingenieurswese, prof Jan du Plessis.

Du Plessis is vereer vir sy volgehoue innoverende bydraes tot die rekenaarwese en satelliettegnologie waarmee hy talle ingenieurstudente geïnspireer het, die grondslag vir ʼn vooruitstrewende tegnologie- en gerekende mikrosatellietbedryf in die land gelê het, en die Universiteit Stellenbosch én Suid-Afrika wêreldwye aansien besorg het.

Mudge is vereer vir sy vernuftige dog beskeie leierskap in diens van sy land, sy uitnemende veranderingsbestuurvermoëns, en sy rol om as vredesmakelaar en handelaar in hoop op die vasteland, onafhanklikheid vir Namibië en versoening tussen wit en swart Afrikane te fasiliteer;

Die US het erkenning gegee aan Sonn vir sy rol in die transformasie van onderwys en opleiding, sy internasionale bydrae as beeldbouer van die land, sy werk as beginselvaste sakeman en onbaatsugtige gemeenskapsleier, en sy betrokke burgerskap wat die Suid-Afrikaanse samelewing na geregtigheid vir almal help stuur het. 

Op sy beurt is Van Zyl vereer vir sy leierskap om honderdduisende aandeelhouers se beleggings op ʼn volhoubare groeipad te plaas, vir sy sosiale verantwoordelikheid om die laerinkomstemark by die formele ekonomie te betrek, en vir sy visie om die weg vir die land se eerste volwaardige swart finansiëledienstemaatskappy te baan.

Meer as 5300 Matiestudente het vandeesweek grade en diplomas van die US ontvang.

Onderskrif: Prof Jan du Plessis, dr Johan van Zyl, dr Dirk Mudge en dr Franklin Sonn (foto deur Stefan Els)

Lees hier meer oor die ontvangers.