Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Riccardo Swanepoel maak geskiedenis en ontvang US Kanseliersmedalje
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 08/12/2016

Mnr Riccardo Swanepoel is gisteraand (7 Desember) tydens die gradeplegtigheid van die Fakulteite AgriWetenskappe en Ingenieurswese aangewys as die ontvanger van die Universiteit Stellenbosch (US) se Kanseliersmedalje vir 2016. Dié toekenning is die hoogste lof wat die US aan 'n student betoon.

Die Kanseliersmedalje word jaarliks toegeken aan 'n finalejaarstudent of 'n nagraadse student wat uitnemend presteer het. Prof Eugene Cloete, wat Swanepoel se commendatio voorgelees het, het gesê dat dit 'n "bykans onmoontlike taak is om aan 'n byna 100 jaar oue universiteit iets te bereik wat niemand anders nog vantevore reggekry het nie, maar vanjaar se ontvanger het wel".  Hy het Swanepoel beskryf as 'n  "besonder waardige ontvanger".

Swanepoel, 'n boorling van Port-Elizabeth en oud-leerder van die Hoërskool Framesby, het geskiedenis gemaak aan die Universiteit Stellenbosch toe hy 100% vir sy finale projek in Ontwerp behaal – iets wat geen student nog kon regkry nie. Dit is dus geen wonder nie dat sy Ontwerpprojek as "straks die absolute hoogtepunt in voorgraadse prestasie" in die Fakulteit beskryf is.

Boonop het hy 93% vir sy finalejaarsprojek ontvang, die hoogste nog in die Fakulteit. Sy werk is van sulke uitstaande gehalte dat dit aangebied is vir publikasie in 'n spesiale uitgawe van die International Journal of Chemical Engineering Data.

Swanepoel het sy BIng-graad met 'n gemiddeld van 94.1% behaal, slegs 0,9% laer as die hoogste persentasie wat nog in die program behaal is. Gedurende sy vier jaar aan die US het hy 42 van sy 44 modules met onderskeiding geslaag.

Maar Swanepoel het nie net in die klaskamer presteer nie. Hy was ook van 2013 tot 2015 redakteur van Eendrag Manskoshuis se koerant en stigter en bestuurder van die koshuis se taal- en vertalingskomitee.

Dié begaafde Matie is egter nie net vlug van begrip nie, maar boonop vlugvoetig op die dansbaan ook:  van 2008 tot 2011 het hy goue toekennings vir baldans (ballroom dancing) ontvang.

Swanepoel het die toekenning as 'n "enorme eer" beskryf en gesê dit het eers later behoorlik by hom ingesink toe mense hom op straat gelukwens met die prestasie. Hy skryf sy akademiese sukses toe aan "baie nagte sonder slaap" en deursettingsvermoë. Swanepoel sal aanstaande jaar sy M-studies aan die US voortsit en hoop om dit later om te skakel in 'n PhD.

Onderskrif: Mr Riccardo Swanepoel saam met die Kanselier van die US, Dr Johann Rupert. Foto: Stefan Els