Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dokter Yvonne hou doel voor oë
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 06/12/2016

Vir Yvonne Dyum was daar nooit 'n ander opsie nie – sy wóú 'n dokter word. En al was daar heelwat hindernisse vir dié dogter van twee Stellenbosse plaaswerkers, het sy altyd hierdie doel voor oë gehou. Nou is haar deursettingsvermoë beloon.

Dyum (24) is een van meer as 700 studente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat Dinsdag (6 Desember) hul kwalifikasies ontvang het.

Sy is in die verafgeleë landelike gebied van Cala in die Oos-Kaap gebore, maar kort ná haar geboorte het haar ouers na Stellenbosch gekom om op die wynlandgoed Muratie langs die R44-hoofweg buite die dorp te werk.

Albei haar ouers – ma Cynthia en pa Chriswell – is algemene plaaswerkers op Muratie.

"Ek was op die destydse Driehoek Primêre Skool waar ons net 50 kinders in die hele skooltjie was. Daarna is ek na Hoërskool Cloetesville en het in 2009 matriek voltooi," vertel Dyum.

Toe haar matriekpunte nie goed genoeg was om vir mediese studies aanvaar te word nie, het sy nie opgegee nie, maar ingeskryf vir die Universiteit se SciMathUS-program. Dit is 'n oorbruggingsprogram wat matrikulante help om hul punte in wetenskap en wiskunde te verbeter sodat hulle universiteitstoelating kan kry.

"Dit het my ʼn goeie hupstoot gegee en my voorberei op die uitdagings van universiteitstudies. Ek het ook geleer om op my sterkpunte te fokus. Ná die jaar by SciMathUS het ek goed geslaag en is vir Medies aanvaar.

"Vandat ek kan onthou, wou ek ʼn dokter wees; daar was nooit ʼn ander opsie nie," sê Dyum, die jongste van twee kinders (haar ouer broer, Leonard, het Meganiese Ingenieurswese gestudeer).

Benewens haar familie se ondersteuning, kon sy ook staat maak op die SciMathUS-onderwysers met wie sy kontak behou het. "Dit was tawwe jare, maar die ondersteuning het baie gehelp. Ek het net my oog op die doel gehou."

Dyum het haar finale jaar as mediese student by die Ukwanda Landelike Kliniese Skool in Worcester voltooi waar studente die geleentheid kry om met pasiënte in landelike gebiede te werk. "Ek het die ondervinding baie geniet omdat ek eintlik graag in ʼn landelike gebied wil werk en bydra tot gesondheidsorg in plekke waar toegang tot mediese behandeling swak is."

Aanstaande jaar keer Dyum terug na die Oos-Kaap waar sy in Uitenhage haar internskap vir twee jaar sal doen.

Foto: Stefan Els