Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-projek pak indringer-wespes
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/12/2016

​Om veertig keer in vier jaar deur perdebye gesteek te word is meer as wat die meeste mense kan verduur. Dit is egter wat Carolien van Zyl deurgemaak het om haar doktorsgraad in entomologie te behaal. Haar navorsing was oor twee soorte indringer-wespes wat besig is om in die Wes-Kaap te versprei. Sy moes die pynlike steke verduur terwyl sy meer as 200 van hul neste verwyder het. In die proses het sy darem kon vasstel dat daar vermoedelik inheemse bio-beheeragente is wat gebruik sou kon word as alternatiewe, of tesame met chemikalieë, om die insekte se verdere verspreiding te beheer.

Paperwasp.JPG


Die papierwespe (Polistes dominula). Foto: verskaf

Van Zyl ontvang haar PhD-graad op 8 Desember tydens die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe. Haar studieleier was dr Ruan Veldtman van die Universiteit Stellenbosch en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut. Hy is onder diegene wat betrokke is by die bestudering van die Duitse of Europese wespe (Vespula germanica) en die papierwespe (Polistes dominula), en planne maak oor hoe om hul verdere verspreiding in die Kaapse Blommeryk te verhoed.

Hierdie insekte het al na talle dele van die Wes-Kaap versprei, insluitend Kaapstad en die Bolandse dorpe Stellenbosch, Wellington en Franschhoek.

Volgens Van Zyl het dié geel-en-swart gestreepte insekte 'n voorliefde vir proteïene en suiker en word hulle beskou as die "lastige familielid van die insekwêreld". Die Duitse wespe word al sedert 1974 in Suid-Afrika aangetref, terwyl die papierwespe vir die eerste keer in 2008 opgemerk is.

"Die wespe is daarvoor bekend dat hulle teenwoordigheid al gekeer het dat boere kon oes, verjaarsdagpartytjies en pieknieks bederf het en selfs al honde aangeval het," vertel Van Zyl.

Hulle kom oorspronklik van Europa, Noord-Afrika en Asië, maar is deesdae albei wydverspreide plae. "In sommige wêrelddele waarheen hulle intussen al versprei het, rig hulle skade aan in die byebedryf, veroorsaak ongerief in die toerismesektor en die tuinboubedryf en beïnvloed ook die biodiversiteit negatief," vertel Van Zyl.

Beheermiddels

"Daarom wil mens die getalle wespes tydens die perdebyseisoen verminder en verhoed dat hulle verder versprei," voeg sy by.

Chemikalieë of gifstowwe is nie die enigste (of altyd die effektiefste) maniere  om insekte te beheer nie. Daarom ondersoek navorsers soos Van Zyl en kollegas van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie die gebruik van verskillende soorte biologiese hulpmiddels soos swamme wat die insekte en hul neste kan besmet, of die gebruik van die wespe se natuurlike parasiete en vyande.

Daar word gehoop om patogene, natuurlike vyande en parasiete in te sluit in 'n geïntegreerde pes-beheerprogram (IPB) om die wespe-kwessie aan te spreek.

Deur haar PhD-werk het Van Zyl vasgestel dat twee lewende bio-beheeragente – een 'n swam en die ander 'n mikroskopiese klein rondewurm genaamd 'n nematode – gebruik kan word om hierdie wespe-spesies te beheer. Die presiese formulerings waarvolgens hierdie bio-beheeragente aangewend moet word, moet eers bepaal word voor dit suksesvol in die veld gebruik kan word.

"Noudat ons weet daar is lewende organismes, vermoedelik inheems aan Suid-Afrika, wat gebruik kan word om die wespe te beheer, het ons 'n platform geskep vir toekomstige navorsing om te ondersoek hoe goed hierdie middels buite die laboratorium sal werk. Dit is nodig om te doen voordat hulle grootskaals vrygestel word," meen sy.

Sukses van proewe

Van Zyl het aktiewe perdebyneste versamel gedurende die somer van 2013 en hulle na die laboratorium by die Universiteit van Stellenbosch geneem. Daar is die larwes in die neste bedek met verskillende vermengings van nematodes en swamme. Dié is dan ʼn paar dae later gedissekteer.

"As die lewende wesp-larwes duidelike tekens van infeksie getoon het, het dit beteken dat die aanwendings van swamme en nematodes gewerk het. Dit beteken dat hierdie beheermiddels die insekliggame kon binnedring, toksines afskei, dit dreineer van voedingstowwe en die larwes dan uiteindelik dood," lys Van Zyl van die kenmerkende tekens waarvoor sy opgelet het.

Albei perdeby-spesies was hoogs vatbaar vir al die agente wat getoets is.

"Die wespe-larwes het gevrek binne twee dae nadat hulle met nematodes behandel is, " vertel Van Zyl. "Ek het die larwes toe dissekteer en bevind dat hulle gevul was met honderde mikroskopiese nematodes wat besig was om die larwes van binne af op te vreet."

Die swam-toediening het ook die ondergang van die wespe-larwes beteken. Hulle is gewoonlik melkerig van kleur. "Larwes uit neste wat besmet is met swamme het ligpienk geword, terwyl swam-filamente uit die dooie larwes gegroei het en soos sneeu-bedekte uitlopers gelyk het," vertel sy.

Nadat sy haar graad behaal het, wil Van Zyl nou ʼn werk soek wat haar toelaat om in die buitelug en op kantoor te kan werk, en waardeur sy kan help om peste wat landbougewasse in Suid-Afrika en elders aanval te bestuur.

Bykomende inligting

  • Besoek www.edrr.co.za as jy meer wil uitvind oor hoe die indringer-wespe lyk, of wil rapporteer dat jy van hulle gesien het.