Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US alumnus besit “innoverendste besigheid in Wes-Kaap”
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 05/12/2016

Die titel "Innoverendste besigheid in die Wes-Kaap vir 2016", behoort aan 'n maatskappy wat in 2013 gestig is deur dr. McElory Hoffmann, 'n ou-Matie met 'n PhD in toegepaste wiskunde.

Dr. Hoffmann, medestigter en hoof uitvoerende beampte van Praelexis, was een van 33 topbesigheidslui wat onlangs deur die Wes-Kaapse regering vereer is tydens 'n galageleentheid by Century City. Praelexis was die wenner in die kategorie vir "die innoverenste besigheid" van die Premier se Toekennings vir Entrepreneurskap (Premier's Entrepreneurship Recognition Awards, PERA) vir 2016.

Praelexis maak gebruik van masjienleertegnieke om versteekte patrone en assosiasies te vind in groot datastelle. Tot dusver het die maatskappy al werk gedoen in die opvoedingsektor en in die bank-, versekerings- en mynbedrywe.

"Data is soos gouderts," verduidelik dr. Hoffmann. "Dit werk op dieselfde beginsel as mynwese: ons moet eers die goud uit die erts onttrek alvorens ons iets daarmee kan doen. By Praelexis gebruik ons masjienleertegnieke om sin te maak van groot datastelle en voeg dan kommersiële en strategiese waarde daaraan toe."

Die maatskappy wat in Tegnopark net buite Stellenbosch geleë is, het tans 'n groep van 12 datawetenskaplikes in diens, van wie nege MSc-grade, en drie PhD-grade het.

"Wanneer ek iemand aanstel, soek ek 'n gegradueerde met ten minste 'n MSc, wat ook ervaring het in die vakgebiede van ingenieurswese, toegepaste wiskunde en rekenaarwetenskap," sê hy.

Ten einde te verseker dat daar altyd 'n poel van hoogsopgeleide gegradueerdes in die pyplyn is, is hy nou betrokke by die Department Wiskundige Wetenskappe by die Universiteit Stellenbsoch waar hy in 2007 sy PhD in toegepaste wiskunde verwerf het.

"Masjienleer is 'n wêreld wat teen 'n vinnige tempo funksioneer en daar is nie tyd om op jou louere te rus nie. Ek was vanjaar drie maal na die VSA om op hoogte bly van die nuutste ontwikkelings. Ons kundigheid hier is tans vergelykbaar met die beste ter wêreld.

"Deur Praelexis hou ons ons hoogs opgeleide graduandi hier op eie bodem sodat hulle aan Afrika-spesifieke probleme kan werk," sluit hy opgewonde af.