Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Megan Smith
Ontmoet Megan Smith: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 02/12/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Megan Smith.

Megan Smith het groot ambisies, en haar hart is selfs groter. Hoewel sy nou eers ’n eerstejaar Arbeidsterapiestudent aan die Universiteit Stellenbosch is, droom sy om eendag aan die hoof te staan van ’n organisasie soos LIV Village in KwaZulu-Natal, ’n projek wat behuising en sorg aan weeskinders bied. “Ek wil my vaardighede en kennis gebruik om die lewens van dié kinders te verander,” verduidelik sy.

Smith sê sy het op haar studierigting besluit omdat sy passievol daaroor is om ander te help en ’n positiewe verskil te maak, veral in Suid-Afrika. Sy sê haar Afrikaanse hoërskoolonderwyseres, wat moes probeer om ’n liefde vir Afrikaanse literatuur by ’n groep Englese meisies van KZN te kweek, was vir haar bewyse dat enigiets moontlik is deur passievol daaroor te wees en deursettingsvermoë te hê.

Haar lewensleuse som haar positiewe ingesteldheid goed op: “Elke dag, op elke manier, raak dinge net beter en beter.”

Het jy geweet…
  • Sy hou van met woorde werk, en skryf graag gedigte
  • Sy kan lekker bak en een van haar spesialiteite is haar ouma se vanielje-koek met ’n kinkel - sy vul dit met nougat!
  • Die mees waardevolle les wat sy al in haar lewe geleer het, is om nooit op te gee nie. “My pa het my geleer om deur die storm te ry, en nie rond te staan en te wag tot dit verby is nie.”
  • Sy spandeer daagliks tussen ses en nege ure agter die boeke.
  • Haar beste gewoonte is om daagliks ’n lysie te maak van alles wat sy moet doen. Haar slegste is dat sy nooit haar truie ordentelik opvou nie.
  • Sy is mal oor honde.