Die Universiteit Stellenbosch-student Charl du Toit se goue jaar duur voort – hy is Sondag by die SA Sporttoekenningsplegtigheid as die Sportman van die Jaar met 'n gestremdheid aangewys.
Sy oefenmaat Ilse Hayes is vir die tweede jaar agtereenvolgens as Sportvrou van die Jaar met 'n gestremdheid aangewys terwyl nóg 'n lid van hierdie oefengroep wat in Stellenbosch gebaseer is, Dyan Buis, die Skild van Jove-toekenning ontvang het vir sy prestasies by die Paralimpiese Spele. Hierdie skild word toegeken aan atlete wat onderskeidelik by die Olimpiese en Paralimpiese Spele presteer het. Wayde van Niekerk het ook ’n skild ontvang vir sy prestasie by die Olimpiese Spele.
"As 'n gestremde atleet voel ek baie trots om hierdie toekenning te ontvang," het Buis in 'n onderhoud gesê. "Ek is 'n groot patriot en om hierdie toekenning te ontvang, is baie spesiaal."
Maties Parasport-atlete het die kategorieë vir sportmans en sportvroue met gestremdhede oorheers.
Die drie benoemdes in the kategorie vir Sportman van die Jaar met 'n gestremdheid was Du Toit, Buis and Reinhardt Hamman.
Du Toit, wat besig is met sy honneursgraad in onderwysbestuur aan die US, het twee goue medaljes by die Paralimpiese Spele gewen. Hy is die Paralimpiese kampioen in die 100m en 400m in die T37-klas en het ook die wêreldrekord in die 100m en die Paralimpiese rekord in die 400m verbeter.
Buis, Du Toit se oefenmaat en ook 'n honneurstudent in die Fakulteit Opvoedkunde, het goud verower in die 400m (T38) en brons in die verspring. Hamman, wat aan sy eerste Paralimpiese Spele deelgeneem het, het die spiesgooi-item in die T38-klas gewen.
Ná hy sy toekenning ontvang het, het Du Toit gesê hy is trots om 'n ambassadeur vir persone met gestremdhede te wees.
Die drie benoemdes in the kategorie vir Sportvrou van die Jaar met 'n gestremdheid was Hayes, Anruné Liebenberg en Zanele Situ.
Hayes, wat aan haar vierde en laaste Paralimpiese Spele deelgeneem het, het twee silwermedaljes gewen (100m en 400m, T13). Sy het oor vier Paralimpiese Spele altesaam sewe medaljes verower (twee goud, vier silwer en een brons). Hayes se oefenmaat en kamermaat in Rio, Anruné Liebenberg, het ook 'n silwermedalje verower – in die 400m (T47). Zanele Situ, wat aan haar vyfde Paralimpiese Spele deelgeneem het en Suid-Afrika se vaandeldraer by die openingseremonie was, het 'n bronsmedalje in die spiesgooi (F54) gewen.
Du Toit, Hayes, Buis en Liebenberg vorm almal deel van 'n oefengroep wat deur dr Suzanne Ferreira afgerig word. Sy is benoem in die kategorie vir Afrigter van die Jaar.
As ingeskrewe studente aan die US, is die studente-atlete Du Toit, Buis en Liebenberg ook IMAS-beurshouers. IMAS is die Engelse akroniem vir Integrated Medicine and Science. Hierdie beurs word deur die Hoëprestasie-eenheid, gesetel in Maties Sport, toegeken en fokus daarop om 'n ondersteuningstruktuur vir atlete te skep om hul prestasie te verbeter.
Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, het die Maties Parasport-atlete bedank dat hulle uitstekende ambassadeurs vir Suid-Afrika, die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport is.
"Hierdie atlete verteenwoordig die hoogste vlak van uitnemendheid. Ons respek en bewondering vir hulle is onbeskryflik en ons betoon hulde aan hulle."
Wentzel Barnard, Bestuurder van die Maties Parasportklub, is baie trots op die atlete.