Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sarah Bosch
Ontmoet Sarah Bosch: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 25/11/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Sarah Bosch.

Sarah Bosch wil in die voetspore van haar pa volg. “Hy is ’n algemene praktisyn wat gespesialiseer het in in familie medisyne,” vertel die Bredasdorp-inboorling. Haar broer is ook tans ’n sesdejaar mediese student by die Universiteit Stellenbosch se Tygebergkampus.

Bosch het reeds in graad 8 besluit dat sy ook wil dokter word om mense te kan help. Haar ouer suster, wat verstandelik gestremd is, was ook een van die redes hoekom sy op ’n MB,Chb-graad besluit het.

“Ek het baie by haar geleer oor empatie, omgee, verantwoordelik en om die goeie in elke situasie raak te sien.”

Sy besef egter dat die loopbaan wat sy vir haarself gekies het baie persoonlike uitdagings sal stel. “Jy werk harde ure, sien jou familie min, en daar word van jou verwag om meer van jouself te gee as wat jy terug kan verwag, en jy het ’n baie groot verantwoordelikheid.”

Sover geniet sy haar studies, en sê veral die tweede semester was lekker “omdat die werk gaan oor wat ek eintlik wil doen eendag”. Sy sien uit daarna om te leer hoe om ’n drup op te sit.

Het jy geweet…

  • As sy ’n dier kon wees, sou sy ’n pikkewyn kies. “Dis my gunsteling dier.”
  • As sy iets op ’n advertensiebord kon skryf, sou dit wees: “Die wêreld het nodig wat jy het.”
  • Haar gunsteling kos is haar ma se macaroni-en-kaas.
  • Haar beste eienskap is dat sy baie lag. “Veral vir myself.”
  • Haar boodskap aan die kampus is: “Onthou om die beste te maak van jou geleenthede.”