Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Donasie aan Die Vlakte beursfonds
Outeur: Louis Jonker
Gepubliseer: 29/11/2016

Die 22ste kongres van die International Organisation for the Study of the Old Testament (IOSOT) is in September 2016 by die Universiteit Stellenbosch gehou. Dit was die eerste keer dat hierdie prestigeryke organisasie in Afrika vergader het. Die kongres is bygewoon deur 360 internasionale en Suid-Afrikaanse deelnemers, en referate van hoogstaande gehalte is aangebied.

Die kongres het plaasgevind in die Lettere-gebou op die hoek van Merriman- en Ryneveldstrate. 'n Artikel gebaseer op navorsing deur prof. Albert Grundlingh van die Departement Geskiedenis is in die kongresboek ingesluit om kongresgangers deurentyd bewus te maak van die geskiedenis van die Vlakte asook die konteks van muuruitstallings in die kongresgebou .

Die IOSOT-reëlingskomitee het geld ingesamel om die kongres te befonds deur middel van skenkings, navorsingstoekennings, en registrasiefooie. Weens die verswakkende rand het die registrasiefooie (wat in Euro betaal is) 'n hoër as verwagte opbrengs en gevolglik 'n oorskot van sowat R60,000 meegebring. Die IOSOT-reëlingskomitee het besluit om hierdie oorskotbedrag vir die Vlakte-beursfonds te skenk.

Op die foto oorhandig die IOSOT-president vir 2013-2016, prof. Johann Cook (emeritus professor van die US Department Antieke Studie, Fakulteit Lettere), en die kongressekretaris, prof. Louis Jonker (US Departement Ou en Nuwe Testament, Fakulteit Teologie), die tjek aan prof. Arnold Schoonwinkel, die vise-rektor Onderrig en Leer, wat betrokke is by die bestuur van Vlakte-beursfonds.