Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Woordfees stel 2017-program bekend
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 21/11/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees het Donderdag (17 November) sy program vir 2017 bekend gestel tydens 'n langtafel-geleentheid in Ryneveldstraat, Stellenbosch.

Sowat 500 mense het die funksie bygewoon waar die program vir die 2017-fees, wat van 3 tot 12 Maart 2017 gehou word, bekendgestel is. Die fees se tema is "wys". Die nuwe logo en televisieadvertensie is ook tydens die geleentheid gewys.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het die gaste verwelkom en gesê die US wil graag transformatief in alle sfere van die samelewing wees.

"Ons wil ook menswaardigheid en gelykwaardigheid bewerkstellig deur die kunste. Die kunste ondermyn die lelike dinge en laat ons die mooi sien," het prof Koopman gesê.

Saartjie Botha, Direkteur van die US Woordfees en WOW-projek, het 'n opsomming van van die hoogtepunte op die 2017-program gegee. " 'n Mens moet maar versigtig wees vir die oortreffende trap, maar ek glo volgende jaar het ons die mooiste program nog ooit. Deur die fees en ons program bewys ons dat die US Woordfees vir die kunste staan en dat ons in die gemeenskap resoneer," het sy gesê.

Die skrywersprogram is die grootste faset van die fees, en vir 2017 verwelkom die US Woordfees vir die eerste internasionale skrywers wat oor hul jongste boeke sal gesels.

Altesaam 36 dramas sal op die planke gebring word, waaronder Athol Fugard, John Kani en Winston Ntshona se ikoniese Sizwe Banzi is Dead en Reza de Wet se Drif. 'n Drama wat die aktuele onderwerpe rondom studentegelde en die #feesmustfall-protesoptogte aanspreek, The Fall, word ook opgevoer.

Die musiekprogram is vol konserte van populêre én klassieke musiek. 'n Internasionale jazztrio sal speel, die US Koor sal sing, en die US-alumnus Megan-Geoffrey Prins, 'n bekroonde pianis wat tans in Amerika studeer, sal 'n klavieruitvoering lewer.

Groot musieksterre tree ook weer by Coetzenburg op.

'n Lywige filmfees is saamgestel, met rolprente soos Die Rebellie van Lafras Verwey met regie deur Simon Barnard en The Endless River van die Kaapse fliekmaker Oliver Hermanus.

Wat visuele kuns betref is Athi-Patra Ruga aangewys as die feeskunstenaar, en word 'n retrospektiewe uitstalling van sy werk gehou. Hy is in Mtata in die Oos-Kaap gebore, maar werk en woon deesdae in Kaapstad. Daar is ook nog 'n aantal solo- en groepuitstallings te sien.