Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lindokuhle Mazibuko
Ontmoet Lindokuhle Mazibuko: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 21/11/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Lindokuhle Mazibuko.

Lindokuhle Mazibuko het nege onderskeidings behaal in matriek. Hy kan 11 musiekinstrumente bespeel en wil eendag onthou word as die dokter wat die suksesvolle behandeling van MIV/Vigs ontdek het.

Wanneer hy sy MB,ChB-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, wil hy in virologie en neurochirurgie spesialiseer by Harvard Universiteit in die VSA.

“Ek het geleer dat harde werk die sleutel is,” verklap hy die belangrikste les wat hy tot dusver in sy lewe geleer het. “Ek glo nie in kortpaaie nie."

Mazibuko, ’n eerstejaarstudent van Bergville in KwaZulu-Natal, is nou ’n Huis Kerkenberg-inwoner. Hy sê hy het ’n mediese rigting gekies, omdat hy lewens wil verander en wil onthou word in die geskiedenisboeke.

Hy beskryf homself as nuuskierig en sê hy bevraagteken bykans alles. “Ek glo in myself en diegene wat rondom my is. Ek glo ook dat ek spesiaal is in God se oë en dat ek beskore is vir groot dinge.”

Mazibuko sê die aanpassings as eerstejaar op kampus was moeilik, omdat dit ’n nuwe omgewing is en hy van voor af moes leer hoe om te oorleef en te leer, veral met betrekking tot die akademiese uitdagings. Die ‘vaardigheid’ wat hy die graagste wil baasraak tydens sy studies, is deursettingsvermoë.

“'Ayikho inkomo yobuthongo.' Dis ’n Zoeloe gesegde wat beteken ‘geen ongemak, geen gewin’.”

Vinnige vrae:

  • Gunsteling kos? “'Jeqe noBhontshisi' (gestoomde brood en bone).”
  • Boodskap aan die kampus? “Moet nooit vergeet waarvandaan jy kom, waar jy is en waarheen jy op pad is nie.”
  • YouTube of Instagram? “Khan Acadamy (op YouTube).”
  • Beste gewoonte? “Ek lees baie oor MIV.”
  • Slegste gewoonte? “Slaap.”