Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Natuurwetenskappe-student herontdek langverlore spesie
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 14/11/2016

'n Honneurs BSc-student van die Universiteit Stellenbosch het nie net 'n vermoedelik uitgestorwe plantspesie wat laas in 1928 gesien is, herontdek nie. Hy gaan ook in sy MSc-studie hierdie plant verder bestudeer ten einde met 'n bestuurplan vir die bewaring hiervan vorendag te kom.

In April van hierdie jaar het Brian du Preez, 'n vrywillige deelnemer aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) se program: bewaarders van seldsame en bedreigde veldblomme (ook bekend as CREW), gaan soek na 'n kritiek bedreigde spesie – Marasmodes schlechteri. Laasgenoemde behoort aan 'n klein hoogs bedreigde plantgenus in die magrietjiefamilie. Hierdie soektog het gestrek oor verskeie stukke Renosterveld tussen Piketberg en Piekenierskloofpas heen.

Die groep was besig om 'n gebied op die plaas Goede Hoop naby Eendekuil te fynkam, toe Brian 'n groot grys bos opgemerk het wat hy nie dadelik kon identifiseer nie: "Die plant het peule gehad, dus het ek geweet dat dit aan die Ertjie-familie behoort, maar ek kon nie 'n genus daarby pas nie." Na beraadslaging met ander groepslede is vasgestel dat dit 'n Polhillia is.

Hulle het aanvanklik gedink dat dit 'n nuwe spesie is, maar nadere onersoek het getoon dat dit die langverlore spesie Polhillia ignota is. Hierdie spesie is slegs bekend vanweë twee plantinsamelings wat in 1924 en 1928 gedoen is in onderskeidelik die Porterville- en Saldanhagebiede. Sedertdien is dit op die SANBI se rooidatalys van uitgestorwe plante.

http://redlist.sanbi.org/species.php?species=431-aa.

Ten einde die spesie se identifikasie te bevestig, moes hulle in September na die gebied terugkeer om blomme te versamel. Toe eers kon dr. James Stephen Boatwright van SANBI se Compton Herbarium, SANBI, bevestig dat dit inderdaad Polhillia ignota is.

Brian sê dat daar 13 van hierdie bosse voorkom in 'n gebied so groot soos 'n rugbyveld: "Die plante groei in 'n sanderige, onbewerkte area. Hierdie gebied kan nie omgeploeg word nie, aangesien dit tussen twee stukkies vlak, klipperige grond lê wat ongeskik is vir bewerking. Ongeveer 98% van die oorspronklike Renosterveld in the Swartland is alreeds bewerkte landbougrond. Hopelik sal ons daarin slaag om hierdie stuk grond te bestuur en te bewaar."

Hy het ook saad versamel om te sien of hy dit aan die groei kon kry: "Ek het wraggies 12 van die 30 sade aan't groei gekry, maar toe het slakke tien van die saailinge verorber!"

Met ingang 2017 sal Polhillia ignota die navorsingonderwerp van Brian se MSc-studies wees, wat hy onder leiding van prof. Léanne Dreyer van die Department Plant- en Dierkunde gaan doen. Hy hoop om 'n bestuursplan te ontwikkel vir die bewaring van hierdie spesie, tesame met 'n taksonomiese hersiening van die genus Polhillia: "Daar is sewe spesies in die genus en almal van hulle is gelys as bedreigde spesies met 'n hoë risiko van uitsterwing. Dit is eintlik die derde mees bedreigde plantgenus in Suid-Afrika," voeg hy by.

Brian, wat in George grootgeword het, sê hy is gek oor veldwerk en is reeds besig om meer veldekskursies na die Swartland te reël om ander hoogs bedreigde of uitgestorwe plante te soek. Hy is ook 'n ywerige natuurfotograaf en plaas die meeste van sy foto's op Facebook onder die skuilnaam BrianKdNaturePhotography of https://www.facebook.com/BrianKdNaturePhotography

Luister hier na 'n potgooi van 'n onderhoud met Brian du Preez op Radio Today se Sappi Nature Journal.