Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fisika studente kry voorsmakie van kernfisika
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 11/11/2016

Die sesde 'Tastes of nuclear physics' skool is van 1 tot 3 November 2016 deur die US se Departement Fisika aangebied.

Vanjaar het 40 fisika studente van regoor die Wes-Kaap lesings en werkswinkels bygewoon wat deur nege toonaangewende internasionale fisici aangebied is, waaronder dr. Sydney Gales, voormalige direkteur van die GANIL laboratorium in Frankryk, en prof. John L. Wood, emeritus-professor by die Georgia Instituut vir Tegnologie in die Verenigde State van Amerika. Prof. Woods is ook mede-skrywer van die nuutste boek oor kernstruktuurfisika, Fundamentals of nuclear models (2012).

Prof. Paul Papka, 'n eksperimentele kernfisikus by die US en organiseerder, sê die doel van die forum is om voor- en nagraadse studente die geleentheid te bied om met van die wêreld se voorste deskundiges op die gebied van teoretiese en eksperimentele kernfisika en kernastrofisika te verbeter: "Dit was 'n besonderse verrykende ervaring vir al die studente. Ons waardeer veral die bydra van ons internasionale sprekers."

Studente is blootgestel aan 'n wye verskeidenheid van onderwerpe in die vakgebied eksperimentele en teoretiese kernfisika en kernastrofisika, Studente het ook te doene gekry met eksperimentele tegnieke soos magnetiese spektometrie en radioaktiewe ioonstraalfasiliteite.

Prof. Papka sê die onderwerpe is só gekies om 'n internasionale perspektief te gee op navorsing wat reeds by Suid-Afrika se iThembe LABS onderweg is. Dit beteken daar is geweldig baie geleenthede vir MSc en PhD projekte, het hy bygevoeg.

Die volgende "Tastes of Physics" skool sal in 2017 weer deur die US se Departement Fisika aangebied word.

Die sprekers se aanbiedinge is aanlyn beskikbaar by http://www.physics.sun.ac.za/nuclear/tastes-of-nuclear-physics.html

Tastes2016_resized.jpg