Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Impak van klimaatsverandering van gene tot op ekosisteme
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 11/11/2016

Nuwe navorsing wat verlede week in Science gepubliseer is, toon dat klimaatsverandering alreeds 'n negatiewe uitwerking op elke aspek van lewe op aarde het ‒ van gene tot op totale ekosisteemvlak. Klimaatsverandering hou toenemend kommerwekkende gevolge vir die mensdom in. 

Die navorsingsartikel: "The broad footprint of climate change from genes to biomes to people", waarvan dr. Wendy Foden van die Universiteit Stellenbosch (US) mede-outeur is, is op 11 November in Science gepubliseer. Dr. Foden is ook die voorsitter van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) se kommissie vir spesie-oorlewing en die spesialisgroep oor klimaatsverandering, waar hierdie studie sy oorsprong gehad het.  

In die studie het navorsers 'n stel sleutel ekologiese prosesse geïdentifiseer wat die grondslag vorm vir die funksionering van gesonde ekosisteme.  Van die 94 prosesse wat in ag geneem is en in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte gedokumenteer is, het 82% sterk bewyse getoon van die uitwerking wat klimaatsverandering op hulle het. Hierdie uitwerking sluit verandering ten opsigte van genetiese diversiteit en seisoenale migrasie in, wat op hulle beurt weer die funksionering van gesonde mariene-, varswater- en landekosisteme beïnvloed.

"Die negatiewe uitwerking van hierdie klimaatsverandering is kommerwekkend en is meer omvangryk as wat ons verwag het. Dit is duidelik dat klimaatsverandering nou al reeds 'n groot bekommernis is, en nie slegs die toekoms raak nie, sê dr. Foden.

Dr. Brett Sheffers, van die Universiteit van Florida, hoofouteur van die artikel en ook 'n lid van die IUCN se kommissie vir spesie-oorlewing en die spesialisgroep oor klimaatsverandering, sê hulle het nou bewyse dat slegs 1oC van aardverwarming, alreeds 'n groot negatiewe uitwerking tot gevolg het. Hierdie impak wat waargeneem kan word, strek van individuele geenverandering, noemenswaardige verskuiwings in spesiefisiologie en fisiese kenmerke soos liggaamsgrootte, tot spesies wat na totaal nuwe areas migreer.

Die navorsers waarsku dat die negatiewe uitwerking van klimaatsverandering wat op verskillende vlakke van biologiese organisasie waargeneem is, dui op 'n toenemend onvoorspelbare toekoms vir mense in terme van voedselsekerheid en menslike gesondheid. Gesonde ekosisteme dra by tot klimaattempering en -aanpassing deur noemenswaardige hoeveelhede koolstof te isoleer, die regulering van plaaslike klimaat en die vermindering van risiko's vir klimaatverwante gevare soos vloede, seevlakstygings en siklone, aldus die verslag.

"Hierdie studie het groot implikasies vir die wêreldleiers wat in Marrakesj byeenkom vir klimaatsonderhandelinge," sê dr. Foden. "Lande se huidige verpligtinge berus op die voorspelde beperking van wêreldwye temperatuurstygings tot ongeveer 3oC. Ons toon egter dat 'n temperatuurstyging van 1oC alreeds ernstige negatiewe uitwerkings in biologiese sisteme veroorsaak. Indien ons gaan aanhou om natuurlike sisteme te gebruik om dienste te verskaf waarop ons so swaar steun, is dit onvermydelik dat ons ons pogings moet verskerp."

Volgens haar word hierdie negatiewe impak op die klimaat alreeds in Afrika waargeneem. 'n studie wat in 2007 onderneem is, het bevind dat Suid-Afrika se kokerbome (Aloe dichotoma) onder 'n hoë sterftesyfer en swak voortplantingskoers gebuk gaan in hulle warm, droë noordelike verspreidingsgebied in Namibië as gevolg van verhoogde droogtestres. Op die rand van hulle suidelike verspreidingsgebied in Suid-Afrika, waar toestande voorheen op die grenswaarde was ten opsigte van hulle verdraagsaamheid betreffende koue, nat toestande, het bevolkings vinnig uitgebrei.

'n Studie van 2016  skryf die verminderde visopbrengste uit Afrika se Tanganjikameer toe aan die verandering in watersirkulasie in die meer as gevolg van warmer oppervlakwater. Anders studies dokumenteer die impak van klimaatsverandering op voedselsekerheid, soos die afname in mielie-opbrengs in Afrika. Die uitbreek van siektes soos Babesia en 'n hondesiektevirus (ook bekend as canine distemper virus) in 1994 en 2001 wat meer as een derde van die Serengeti leeubevolking se dood veroorsaak het, was ook die uiteinde van 'n siklus van prosesse wat deur klimaatsverandering aan die gang gesit is. Navorsers het die uitbreek van die siekte toegeskryf aan 'n kombinasie van virale infeksies, bloedparasiete en ekstreme weerstoestande.   

Prof. Guy Midgley, hoof van die navorsingsgroep vir globale veranderingsbiologie in die US se departement Plant- en Dierkunde, sê hierdie artikel in Science beklemtoon wat hulle op  grondvlak in Suid-Afrika sien: "Klimaatsverandering se negatiewe impak kom nou wydverspreid voor en neem vinniger toe as wat verwag is. Dit is belangrik dat ons beslissend en vining sal optree om kweekhuisgasvrystellings wêreldwyd te veminder."

Medianavrae

Dr. Wendy Foden

E: fodenw@gmail.com

Tel: +44 793 280 4214

Skype: wendyfoden;

 

Prof. Guy Midgley

E: gfmidgley@sun.ac.za

Tel: +27 21 808 3223

Media navrae: Wiida Fourie-Basson, science @sun.ac.za or +27_21 808 2684