Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verkeerde taktiek kan studente se stryd laat ontspoor
Outeur: Alec Basson
Gepubliseer: 09/11/2016

Studente se stryd om gratis hoër onderwys is geregverdig, maar verkeerde taktiek kan dit moontlik  laat ontspoor.

Dít was een van die gevolgtrekkings van prof Winston Nagan, Direkteur van die Instituut vir Menseregte, Vrede en Ontwikkeling aan die Universiteit van Florida in die VSA, en ook 'n genoot van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), op Dinsdag (8 November 2016). Hy was die spreker by die vyfde en laaste openbare STIAS-lesing van 2016.

Nagan het gesê vandag se studente veg vir ʼn goeie saak, maar hulle kan aan die verloorkant wees weens ʼn gebrek aan dissipline, visie en selfbeheersing.

Hy het studente aangeraai om van geweld af te sien.

Nagan het gesê studente moet met konstruktiewe en insiggewend planne van aksie vorendag kom. Hulle moet hul strategieë gebruik om groter deursigtigheid, verantwoordelikheid en aanspreeklikheid op regeringsvlak te bevorder, het hy bygevoeg.

"Hulle moet met soveel intellektuele ondersteuning as wat hulle by hul fakulteite en administrateurs kan kry met owerhede in gesprek tree en aandring op behoorlike aanspreeklikheid, behoorlike beplanning, en meer aggressiewe fondsinsameling ten einde gratis hoër onderwys ʼn werklikheid te maak."

"Hulle moet ʼn nasionale forum begin om diepgaande gesprekke met alle fiskale owerhede te voer oor aanspreeklikheid vir hoe die land se finansies bestuur word, en hulle moet  daarop aandring dat finansiële korrupsie op alle vlakke beëindig word."

Nagan het gesê al die studente kan vra vir 'n nasionale debat oor die regering, die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se neoliberale ekonomiese beleid.

"Die gevolge van ekonomiese neoliberalisme is groeiende werkloosheid en die toename in radikale ekonomiese ongelykheid."

"Dit het tot grootskaalse vervreemding van die middelklas gelei. In wese ignoreer neoliberalisme die sentraliteit van mensekapitaal binne die raamwerk van ekonomiese beleidsmaking. Dit impliseer dat  finansiële bystand aan studente nie 'n belegging in mensekapitaal is nie, maar slegs net ʼn geskenk."

Dit ignoreer die feit dat ʼn belegging in mensekapitaal in soverre dit studente betref 'n belangrike belegging in mensekapitaal en die toekomstige welsyn van die land is, het Nagan gesê.

Hy meen fundamentele veranderinge by universiteite vereis 'n teorie oor menseregte en 'n erkenning dat studente die belangrikste belanghebbers in die toekoms van hoër onderwys is.

  • Foto: Prof Winston Nagan aan die woord by die vyfde STIAS-lesing.
  • Fotograaf: Justin Alberts.