Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Edwill leef sy droom by Maties
Outeur: Maties HP
Gepubliseer: 07/11/2016

As 'n student aan die Universiteit Stellenbosch leef die 19-jarige Edwill van der Merwe sy droom.

"Ek wou nog altyd 'n Matie gewees het," vertel die Maties-rugbyspeler met trots.

Van der Merwe het vanjaar sy debuut vir Steinhoff Maties gemaak. Hy speel ook vir die Westelike Provinsie se o.21-span nadat hy verlede jaar deel was van die Westelike Provinsie Rugby-instituut, gebaseer by die Stellenbosch Akademie vir Sport. Van der Merwe het reeds verlede jaar begin om Sportwetenskap aan die US te studeer.

"Ek moet sê die feit dat ek al verlede jaar 'n paar vakke kon doen en klaarmaak het vanjaar my lewe soveel makliker gemaak."

Dit was omtrent 'n besige jaar vir die Huis Neethling-inwoner. Ná hy sy debuut vir Maties in die Varsitybeker-reeks gemaak het, is hy ook gekies vir die Junior Springbokke. Ofskoon die Suid-Afrikaanse o.20-span nie die beste Junior Wêreldkampioenskapstoernooi gehad het nie, het Van der Merwe 'n baie suksesvolle toernooi beleef. Hy het nie net een van die beste drieë in die toernooi gedruk nie, maar is ook een van net twee Suid-Afrikaners wat by die toernooi se Droomspan ingesluit is. Die ander speler wat Curwin Bosch.

Van der Merwe het vanjaar grotendeels vir die WP o.21-span gespeel, maar het ook sy debuut vir WP se senior span gemaak in die Curriebeker-reeks se kwalifiserende fase.

"Ek sal nooit my debuut vir Maties vergeet nie. Dit was ongelooflik. En om my eerste drie in die maroentrui te druk… Dis iets waarvan ek al gedroom het toe ek 12 jaar oud was en baljoggie vir Maties-wedstryde in die Danie Craven-stadion was. Ek onthou hoe ek oopmond na die spelers gestaar het en net eenvoudig geweet het, ek wil ook eendag daardie trui oor my kop trek."

Saam met sy Maties-debuut was sy Junior Springbok-ervaring die ander hoogtepunt van 2016 vir die blitsige vleuel. "Dit was nie die beste toernooi vir die span nie, maar ek het ongelooflik baie ervaar en geleer. Dit was 'n trotste oomblik."

Van der Merwe praat nie net met groot entoesiasme oor Maties Rugby nie. Hy is ook 'n trotse sportman en student.

"Ek geniet my studies baie. Net soos ek altyd geweet het ek wil vir Maties speel, het ek geweet dat ek Sportwetenskap wil studeer sodat ek 'n biokinetikus kan word. Dit gaan tot dusver baie goed."

Dit is nie altyd maklik om tyd te maak vir sport én studies nie, maar Van der Merwe laat hom nie onderkry nie.

"Ek hou van uitdagings en kry ongelooflik baie ondersteuning van Maties Sport se Hoë Prestasie-program. As HP-sport word Maties Rugby op 'n hoë vlak bedryf. Ek weet ek word blootgestel aan net die beste."

Van der Merwe is as WP se o.21 Speler van die Jaar aangewys by die WP Rugby-toekennings en is ook Maties se Jongspeler van die Jaar.

Foto: Thys Lombard