Daar word gesê, hoe ouer mens word, hoe verder het jy skool toe geloop. Dit is dieselfde wanneer mens gesels oor insidente wat in die verlede gebeur het. En hoe verder hierdie gebeure in die verlede plaasgevind het, hoe interessanter en meer kleurvol word dit, skryf prof Justus Potgieter, dosent in die Departement Sportwetenskap.
Dit is die jaar 1961.
Met Elvis se Return to Sender en Daan Desimaal, die Rand-Sent Man wat in die agtergrond op my nuwe National transistor-radio speel, pak ek my bliktrommel uit. Ek lees die etikette op die netjies-opgevoude hemde wat my ma vir my ingepak het. Langsaan my naam is die letters DB. Dit is nie ʼn titel of graad nie. Dit was bedoel vir die klere-tannies om ons wasgoed te identifiseer. Maar dit het my nogtans belangrik laat voel. Ek is ʼn inwoner van seksie 10 van Dagbreek-koshuis. En ek gaan BA Jokl studeer (in hierdie stadium het ek nog nie die woord "swot" geken nie). Alles was so nuut en opwindend—die begin van ʼn nuwe lewens-avontuur.
Een van die seniors in die seksie het neerhalend verwys na die liggaamlike-opvoeding kursus as "boomklim en tolgooi", maar dit het my nie veel gehinder nie. Ek het gedink dat hy bloot jaloers was.
Ek onthou ons eerste gimnastiekles. Dit was ʼn belewenis. 'n Senior LO-student het ons vooraf ingelig van hoe heilig die gimnastieksaal (later herdoop as die 'spelesaal') is. Niemand is toegelaat om met gewone skoene in die saal te stap nie, en bewaar jou siel as jy ʼn landingsmat oor die vloer sou sleep.
En dit bring my by my eerste legende. Mnr Jan Kelder. Voor elke gimnastiekles moes ons aantree teen die muur; voor die muurrekke—iets wat ek vir die eerste keer in my lewe gesien het. Ons moes in gelid van kort tot lank inval. Bennie Nolte (ʼn wondergimnas en die enigste student wat ʼn reuseswaai op die rekstok kon doen) en David Berning het stelling ingeneem aan die begin van die ry. Ek was nader aan die einde, langs Piet le Roux. Aubrey du Plessis (ʼn uithaler-swemmer en eerstespan Matie rugbyspeler) was aan die einde van die ry jong manne; kaalvoet, kaal bolyf, gekleed in netjiese wit kortbroekies.
Die volgende deel van die ritueel was dat ons, na die lees van die teenwoordigheidslys, regs moes draai en dan om die saal draf. Daarna het ons ʼn opwarmingspeletjie gespeel. Elke les ʼn nuwe speletjie. In latere jare was ek spyt dat ek nie hierdie speletjies in my "oefenstof" (toe nog ʼn nuwe woord) lêer aangeteken het nie. Ek was patetiese met gimnastiek. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek kennis gemaak met ʼn brug en het nog nooit gehoor van ʼn "kiep" nie. Ek was onder die indruk dat kiep "slaap" beteken. "Diefsprong" en "Flik-flak" was Grieks vir my.
Mnr Kelder het gereeld ons gimnastiek-uitnemendheid ge-evalueer. Hy het telkemale na my powere pogings gesê: "Dertig persent vir die moeite." Ons twee het egter goed klaargekom want ek kon redelik goed swem na baie jare se oefening in die Katrivier. Hy het my selfs af en toe vir demonstrasies gebruik. Maar ek het, soos baie van my klasmaats, gesukkel met die borsslag en was ook nie watwonders in "koerantswem" nie. Jasper Hough was glad nie ʼn entoesiastiese swemmer nie. Hy het ʼn baaipet gedra want hy het glo probleme met sy ore gehad. Mnr Kelder het egter nie veel simpatie daarvoor gehad nie.
Nog ʼn legende was Dr Postma. Hy was sy tyd vooruit en het probeer om ons die wetenskaplike aspekte van liggaamlike opvoeding te leer. Soos ʼn ware wetenskaplike was hy altyd netjies geklee in ʼn wit laboratoriumjas. Ons het die opstaptoets en ander fiksheidtoetse gedoen en is ook gereeld geweeg en gemeet.
"Possie" het ook vir ons tennis, asook ander kleinspele, aangebied. Dit was tipiese Europese speletjies. Ek kan die naam "Kastie" onthou. Die res het in die dieptes van my geheue vervaag. Tydens my nagraadse studies in Kanada het ek vir Dr Postma geskryf om inligting te bekom oor sy baanbrekersboek, Inleiding tot die Liggaamlike Opvoedkunde. Hy het gou teruggeskryf. Sy gedetailleerde brief was gedateer 25 Desember 1972. Hoeveel dosente sou op Kersdag vir ʼn oudstudent skryf? In my oë was prof Postma ʼn legende.
Dan het ek ook die voorreg gehad om Hans van der Merwe te leer ken. Ons het agter sy rug na hom verwys as "Oom Hans" (selfs nadat hy sy doktorsgraad verwerf het). Dit wys weereens hoe besonder die verhouding tussen dosente en studente van ons departement was.
Nog ʼn legende was Mnr Wieffering. Ek is seker as sy naam tydens ʼn reünie genoem sou word, dat daar ʼn glimlag op die meeste mans se gesigte sou wees. "Wieffie" was ʼn opgewekte "man's man". Hy het altyd ʼn grappie gehad. Hy het vir ons masseurklasse in die destydse kleinsaal aangebied. Dit was salig om in die sonnetjie op die masseurtafel te lê en na Mnr Wieffering se stories te luister. (Hy was ʼn entoesiastiese visserman.) Hy het ook vir ons krieket en sokker gegee. En hy is ook belas om die anatomiekursus aan te bied.
Een Vrydag tydens die 12:10 anatomielesing klop iemand beleefd aan die lesinglokaaldeur en maak dit oop. (As so ʼn insident vandag op TV sou plaasvind sou die studiogehoor "ge-cheer" het, want wie kom die kamer binne?—die legendariese Dok Craven.) Hy het ons kom waarsku dat ʼn spietkop by die Coetzenburg klipbruggie wegkruip. So, ons moet seker maak om by die stopteken stil te hou. Miskien was sy aksie onwettig, maar dit was seker reg vir hom om sy "kinders" te waarsku. Ek het Dok Craven se klasse geniet. Maar ek het nie altyd die rugbylesings verstaan nie. Dit was te ingewikkeld vir my. Dit is die enigste vak wat ek ooit op universiteit met 40% gedruip het. Die gerug het die rondte gedoen dat Dok ons antwoordstelle in die lug gegooi het. Die stelle wat Moos gevang het, het ʼn syfer van 60% gekry, en die studente wie se antwoordstelle op die grond beland het, moes met 40% persent tevrede wees. Ek was blykbaar een van daardie ongelukkiges.
Ons klasmaat, Mannetjies van der Merwe het geen probleem met die rugbylesings gehad nie. Hy het konsepte soos die "voordeellyn" vir my probeer verduidelik, maar dit was nie suksesvol nie. Mannetjies het later vir WP as vleuel uitgedraf.
Dok Craven het ook vir ons bofbal gegee. Hy het sy eie slaanbof ("hitting tee") ontwikkel. Dit was ʼn houtpaal met ʼn stuk rubber tuinslang aan die bopunt. Ons het die bofbal daarop geplaas en dit daarna met entoesiasme gemoker: ʼn tipe katarsis. "Joller" van Tonder, kon die bofbal tot diep die wingerd in slaan, waar dit verlore geraak het. Hy het eenvoudige ʼn natuurlike slag daarmee gehad. Is dit nie eienaardig hoe mens hierdie waarskynlik onbenullighede onthou nie? Deur byvoorbeeld sy bofbaltalent op sy CV te plaas, sou hom nie veel in sy latere loopbaan gehelp het nie, maar dit het baie van ons gefassineer.
Tussen die veertig-minute klasse het daar ʼn sirene geblaas. Een middag het ʼn klasmaat (ek dink dit was Aubrey du Plessis) tydens een van ons bofballesse die sirene nagemaak. Dit was tien minute te vroeg. Dok het ons onmiddellik aangesê om die apparaat weg te pak en te verdaag. Dit was lekker om vroeg huis toe te gaan.
Moos Robyn, wat in die afrolkamer met Henry Orsen gewerk het, was ook een van die departementele legendes—altyd beleefd, hulpvaardig en pligsgetrou; hoewel Moos soms skelmpies in die afrolkamer gerook het. Twee ware 'gentlemen'.
Twee ander legendes was Willy Gordon en Dennis Christian.
Hennie Maart was in beheer van die apparaatkamer. Hy was altyd vriendelik en hoflik; maar streng. Hy sou nie rus voordat daar rekenskap gegee is van elke tennisbal of kleur lint wat uitgeteken is nie.
Ek weet dat dit gewaagd is om sekere individue uit te sonder en ander glad nie te noem nie, en ek vra by voorbaat om verskoning as ek iemand te na gekom het. Sommige van die persone wie ek noem is waarskynlik nie legendes in die ware sin van die woord nie, maar was nogtans interessante mense met besondere talente en persoonlikhede.
In een van ons studiejare het Dok Craven besluit dat dit goed vir ons algemene ontwikkeling sou wees om die wêreld van die rolprentbedryf te betree. Ons het in sirkels op die Coetzenburg rugbyveld gehuppel of gedans. Ek kan nie mooi onthou wat dit was nie, maar wat ek wel weet is dat die meeste van ons belaglik gevoel het. Die rolprent, In die Lente van ons Liefde, was ʼn "box office flop". My rolprentervaring sal gevolglik nie op my CV verskyn nie.
Jannie Malan en Bokkie Basson was die eerste twee klasmaats wat ek op Maties ontmoet het—by die CSV vrugtefees. Ek en Jannie is nog steeds beste vriende en kommunikeer gereeld met mekaar—meer as 55 jaar al. Ons het baie dinge saam gedoen. Die meeste idees was syne. Ek was bloot sy "side-kick". Byvoorbeeld, in ons tweedejaar het ons ʼn vrugtefees vir die Jokl-studente in die veld oorkant die Van der Stel rugbypawiljoen gereël. En in ons derdejaar ʼn LO dans in die Banketsaal. Dit was my eerste dans. My dansmaat vir die aand, Dixie, en ek het in ʼn vierkantformasie "gedans"—al langs die lengte van die saal, dan ʼn kwartdraai na links en die breedte van die saal, dan ʼn kwartdraai na links... en so voorts. Dit was ʼn groot sukses. Ek twyfel egter of Dixie dieselfde bekoring ervaar het.
Jan Erasmus het aanvanklik vir BA (Gewoon) ingeskryf, maar vroeg in die kwartaal het my gepols oor my kursus. Sy reaksie was, "Dit klink interessant" en hy is die volgende dag Admin toe om van kursus te verander. Hy en Jannie Malan het vir Maties se o.20-span rugby gespeel. Ons vriend, Bokkie Basson, het later vir Noord Kaap rugby gespeel.
Nog ʼn kranige rugbyspeler in ons klas was Vossie Vosloo. Hy was ʼn oudleerling van Gill Kollege. Tydens 'intervarsity' het hy vir een van die senior spanne uitgedraf. Ek het goed gevoel dat ek so ʼn belangrike speler persoonlik geken het.
Tienie Olivier was ʼn stil BSc-student met ʼn Latynse soölogiese bynaam, Aves. Ek het geen idee waarom nie. Tienie was ʼn stillerige klasmaat, maar het ʼn wonderlike sin vir humor gehad.
Willem Potgieter, was bekend vir sy bo-armkrag. Hy kon met die toue tot by die gimnastieksaal se plafon klim en het dan stadig en beheersd weer na onder afgeklim. Sover ek weet was hy die eerste van ons klasmaats wat oorlede is. (Hartaanval op ʼn jong ouderdom.)
Mike Smit was ʼn Boland-pluimbalkampioen. Hy het later ʼn leier in Stellenbosch se Opvoedkundefakulteit geword. Hy was ʼn lekker klasmaat en het ʼn besondere humorsin gehad.
Archie Moore was nog ʼn karakter in ons klas. Ek weet nie wat sy werklike voornaam was nie. Mnr Kelder het hom as "Archie" (ʼn legendariese bokser) aangespreek en ons het sy voorbeeld gevolg. Archie was ʼn boorling van Suid-Wes Afrika en ʼn kranige rugslagswemmer.
Johnnie van Heerden was ʼn kleurvolle en ondeunde klasmaat. Hy was ʼn boorling van Prieska en ʼn vurige Elvis Presley aanhanger. Na voltooiing van sy studies het hy ʼn gewilde en gerespekteerde wetenskaponderwyser geword. Hy is ook op ʼn relatief jong ouderdom oorlede.
Fanie de Jongh was een van die senior manne in ons klas. Hy het die vorige jaar ʼn ander kursus gevolg. Hy het vir Maties senter gespeel en het later ʼn professsor in geskiedenis by die Universiteit van Wes-Kaap geword.
Daar was ook ʼn paar Engelse manne in ons klas. Glad nie onaardige ouens nie. Adrian Noffki was van Wynberg Boys' High. Hy is ook vroeg oorlede. En David Berning het na sy studies op Stellenbosch lank LO in Kaapstad onderrig. ʼn Ander Engelsman, Dorian Goldie, het vir Hamiltons rugby gespeel. (Dok Craven het glad nie daarvan gehou nie.) Dan was daar ook Mike Streak, nog ʼn vriendelike kêrel.
Rein Kelder het in ons tweede jaar by ons aangesluit. Hy was nie slegs ʼn vernuftige waterpolospeler nie, maar was ook ʼn behendige busbestuurder—wat soms aan roekeloosheid gegrens het.
Die Jokl-studente van my jaar was ʼn lekker klomp. Daar was ʼn gesonde groepsgees —seker omdat ons mekaar moes ondersteun, veral in die gimnastiekklasse. En ek het baie ondersteuning nodig gehad. Maar ek was nie alleen nie. Een van my klasmaats, Mike Bronn, was effens beter as ek maar het geen aspirasies gehad om ʼn gimnas te word nie. Hy het ons vroeg verlaat en later ʼn bobaas speurder geword.
Hier is ʼn voorbeeld van ons groepsgees: Een somersoggend het ons die dosente laat weet dat die klas die dag as ʼn "General Bunk" verklaar het en dat ons nie vir hulle lesings sal opdaag nie. Daarna is ons almal Strand toe. Ek kan nie onthou hoe ons almal daar gekom het nie. Ons het piramides gebou, aanraakrugby gespeel, geswem, en roomys geëet. En daar was geen alkohol betrokke nie.
Ons het min kontak gehad met die dames in ons klas. Daar was geen sprake van gemengde praktiese klasse nie. Die enigste dame wat vir ons lesings aangebied het, was Dr Isabel Nel (die eerste dame in Suid-Afrika wat ʼn doktorsgraad in Liggaamlike Opvoeding verwerf het). Sy is gewis een van die legendariese akademici in ons vakgebied en was wêreldbekend.
Dan was daar ook ʼn jong lektrise wat ons bloot as "Katzie" geken het. Sy het baie tyd spandeer in die "groensaal" waar sy ons damesklasmaats in dans onderrig het. (Prof Edith Katzenellenbogen het later hoof van die Departement geword.)
Lesers moet my asseblief vergewe as my geheue my in die steek gelaat het en ek nagelaat het om sekere persone te noem of as my rapportering nie honderdpersent korrek is nie. Maar wat nog helder in my geheue is, is die pragtige somersoggend toe ons in donkerpakke en togas by die Ou Hoofgebou aangetree het voordat ons na die stadsaal gestap het vir die Desember-gradeplegtigheid. Wat ʼn kleurvolle en betekenisvolle geleentheid.
Daardie middag was ek die trotse houer van ʼn BA graad — paraat vir die uitdagings van die lewe.