Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale eer vir krokodilnavorser
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 03/11/2016

Dr Alison Leslie van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie het die IUCN-Krokodilspesialisgroep (CSG) se Costello Toekennning vir Krokodilbewaring ontvang. Dit erken haar krokodilnavorsingswerk in Afrika.

Sy het die toekenning ontvang tydens die CSG-spesialisgroep se onlangse byeenkoms in die Kruger Nasionale Park. Dit is bygewoon deur 352 deelnemers van 43 lande.

Die CSG is 'n wêreldwye netwerk van bioloë, natuurlewebestuurders, regeringsamptenare, onafhanklike navorsers, nie-regeringsorganisasies, boere, besigheidslui, leerlooiers en modehuise wat betrokke is by die bewaring van die wêreld se 23 oorblywende soorte krokodille, kaaimans, alligators en gharials wat nog in die natuur aangetref word.

Dr Leslie het die geldbedrag wat aan die toekenning gekoppel is geskenk aan 'n kollega wat navorsing doen oor een van die hoogs bedreigde gharialspesies van Indië. Daardeur word die Dr Alison Leslie-Subir Chofin Corpus-fonds vir Gharialnavorsing en Bewaring in Noord-Indië op die been gebring.

Dr Lesly en haar navorsingsgroep het ook onlangs die kans gehad om vir die Britse Prins Harry te ontmoet wat hand bygesit het by 'n grootskaalse wildhervestigingsprojek in Majete in Malawi. Die span het satelliethalsbande aan die drie grootste leeus gesit sodat data ingesamel kan word oor hul dieet en habitat. Dit vorm deel van voortgesette inisiatiewe deur bewaringskundiges van die Universiteit Stellenbosch om met die heropbou van die Majete Wildreservaat te help.