Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘n Welkom blaaskans vir jong kankerpasiëntjies
Outeur: Kim Cloete
Gepubliseer: 02/11/2016

Kinders wat kankerbehandeling in die onkologiesaal by die Tygerberg-kinderhospitaal ontvang se harte is verbly  met die skenking van 'n PlayStation-vermaakstelsel. Dit bring genot en verligting aan die kinders wat soms vir maande lank in die saal moet tuisgaan.

"Dit is een manier om die ervaring effens te vergemaklik. Ons wil hê die kinders moet 'n blaaskans neem en pret hê. En ons wil ook 'n bietjie van die druk van die moeders en versorgers verlig wat gereeld in die saal oorbly," het Anthea-Lynn Lewis van Tough Living with Cancer (TLC), 'n steundiens wat deel uitmaak van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), gesê.

KANSA het PlayStation-vermaakstelsels aan verskeie kinder-onkologiesale in Suid-Afrika geskenk.

"Ek is baie opgewonde oor die PlayStation. Dit is pret en dit laat my gelukkig voel," het Kyle Adams, 'n 12-jarige kankerpasiënt van die Paarl gesê terwyl hy die jonger pasiënte met die speletjies gehelp het.

Kyle is in Mei met osteosarkoom – 'n tipe kanker wat in die been ontwikkel – gediagnoseer, en sy linkerbeen is onlangs geamputeer. Kyle is al die afgelope paar maande 'n pasiënt in die onkologiesaal en het ook chemoterapie ontvang. Ten spyte van alles wat hy deurgemaak het, bly hy positief.

"My boodskap aan ander kinders met kanker is: 'Moet nooit opgee nie'." Hy is vasberade om 'n baie aktiewe lewe te lei.

Kyle se ma, Samantha Adams, het die afgelope paar maande elke aand langs Kyle in die saal geslaap, en sê dit was met tye baie moeilik.

"Dit is emosioneel uitputtend as jou kind sukkel en swaarkry. Maar Kyle was ongelooflik. Hy is so braaf en positief, en die behandeling wat ons hier ontvang het was wonderlik."

Personeel van TLC besoek tweemaal 'n week die saal om met die kinders te speel en kunshandewerk met moeders en versorgers te doen. Hulle neem ook die kinders op uitstappies as hulle gesond genoeg voel.

Tygerberg-kinderhospitaal is bekend vir die uitstekende behandeling wat dit bied vir kinderkanker.

"Ons het 'n uitstekende navorsingsdepartement, en bied innoverende nuwe behandelings in ons pediatriese onkologieprogram, wat al sedert 1983 aan die gang is," sê prof Mariana Kruger, die Uitvoerende Hoof van Pediatrie by die Tygerberg-kinderhospitaal en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en 'n kinderkanker-spesialis.

Kinders ontvang die beste moontlike behandeling in die hospitaal. Kruger sê dat soveel as 80% van kinderkanker-gevalle geneeslik is indien dit betyds opgespoor word. Sy is geesdriftig oor die bewusmaking oor kinderkanker. September word herdenk as Internasionale Kinderkanker-bewusmakingsmaand.

Volgens Kruger het elke kind met kanker die reg tot behandeling, maar baie kinders in Suid-Afrika word nooit eers gediagnoseer nie.

"Ons diagnoseer in Suid-Afrika jaarliks tussen 700 en 800 kinders. Maar dit behoort 1500 te wees. Baie kinders sterf voordat hulle ons bereik. Ander bereik die hospitaal te laat, wanneer die kanker alreeds in 'n gevorderde stadium is." 

Kruger doen 'n beroep op ouers en versorgers om op die uitkyk te wees vir die gevaartekens van kinderkanker. Dit sluit in: volgehoue, onverklaarbare gewigsverlies; hoofpyne wat gereeld met naarheid gepaard gaan; swelling of pyn in die bene, gewrigte, rug en ledemate; 'n knop in die abdomen, nek, borskas, pelvis of armholtes; alewige infeksies of moegheid en merkbare bleekheid. Veranderinge aan die oë of visie is ook kommerwekkend.

Kruger sê dit is bemoedigend vir dokters en hospitaalpersoneel as hulle 'n kind suksesvol behandel.

Baie van die kinders wat kanker oorwin het danksy die behandeling wat hulle by die Tygerberg-kinderhospitaal ontvang het, kom later terug om die dokters en verpleegsters in die saal te sien en hulle te bedank.

Die Tygerberg-kinderhospitaal se trust werf fondse om lewensreddende sorg aan kinders te bied. Vir meer inligting, kontak Malcolm Kling by 083 987 5178 of 021 938 9538, of besoek:  http://www.tch-trust.org.za/

Vir donasies, van byvoorbeeld speelgoed of kinderboeke, of selfs jou tyd, skakel Laticia Pienaar by 021 938 5454.