Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SAERA bring akademici byeen om opnuut te dink oor onderwys
Outeur: Media: Opvoedkunde / Education
Gepubliseer: 27/10/2016

​'n Groep van 400 akademici het vandeesweek in Kaapstad bymekaargekom om 'n reeks onderwerpe – van sistemiese onderwyshervorming tot klaskamerpedagogie – by die Suid-Afrikaanse Opvoedkunde-navorsingsvereniging (SAERA) se 4de jaarlikse konferensie te bespreek.

Die Universiteit Stellenbosch was die gasheer by hierdie konferensie wat van 23-26 Oktober gehou is, en wat deelnemers uit Suid-Afrika, die res van Afrika, Suid-Amerika, Australië, die Midde-Ooste, die VSA en Europa getrek het.

Die tema van die konferensie was "Herbesin oor Onderwys: Poësie, Praktyke en Pedagogieë" en die doel was om by te dra tot 'n kennisbasis wat op navorsing bou wat gedoen word om nuut oor onderwys te dink in die lig van  komplekse en diverse uitdagings.

Volgens prof Aslam Fataar, Vise-dekaan: Navorsing by die Fakulteit Opvoedkunde aan die US en koördineerder van die konferensie se plaaslike reëlingskomitee , het die tema 'n paar opwindende gesprekke – gegrond op die nuutste opvoedkundige navorsing wat landwyd en oorsee gedoen word – laat ontstaan.

"Die tema is 'n aanduiding van die noodsaaklikheid om oor van die mees hardnekkige probleme in onderwys na te dink en daardeur te werk, maar dit stel ook voor dat daar weggebreek word van oudmodiese maniere om oor onderwys te dink."

Daar is altesaam 300 individuele referate gelewer, sowel as drie uitsonderlike hoofredes. Die konferensie het verder 34 simposium-paneelsessies, 11 spesiale belangegroepsessies en vyf ontwikkelingwerksessies ingesluit.

"Die volgepakte program is 'n bewys van die akademiese gemeenskap in die onderwys se vermoë om te reageer op belangrike navorsingsuitdagings in die onderwys. Die wye reeks onderwerpe was indringend en relevant, en het groot probleme in onderwys aangespreek en die weg gebaan vir 'n baie relevante en fassinerende navorsingsagenda.

"Die konferensie het in sy doel geslaag om voorpunt-navorsing en -debat oor opvoedkundige hervorming en vernuwing ten toon te stel, en om 'n platform vir die voortgesette ontwikkeling van junior akademici daar te stel," het prof Fataar bygevoeg.

Die prys vir die beste doktorale tesis is by die gala-ete aan dr Talitha Calitz van die Universiteit van die Vrystaat oorhandig, en is getiteld: "Agency and access through digital narratives: An application of the capabilities approach to academic literacy at a South African university.

Dr Kathleen Pothouse-Morgan van die Universiteit van KwaZulu-Natal en haar mede-outeurs het die toekenning vir die beste artikel "Learning through co-flexivity in a transdisciplinary self-study research supervision community" ontvang.

Die US se Vise-Rektor: Navorsing, prof Eugene Cloete, het die hoofrede by die konferensie se gala-ete gelewer en 'n oproep op afgevaardigdes gedoen om fundamenteel te herbesin oor die manier hoe hulle dink onderwys aangebied behoort te word.