Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matrikulante van Boland Landbou en Oakdale kry beurse om landbou by Maties te studeer
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/10/2016

Twee leerders van landbouskole in die Wes-Kaap het 'n kans van 'n leeftyd gekry deurdat die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe studiebeurse aan hulle toegeken het. Matthys Basson van Hoër Landbouskool Boland buite die Paarl en Nicolaas Basson van Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdal is die topstudente uit hul onderskeie skole wat in 2017 'n landbouverwante program aan die US gaan volg.

Matthys, wat ook Boland Landbou se topstudent in Landbouwetenskappe is, het op Vanrhynsdorp grootgeword, terwyl Nicolaas van Villiersdorp kom.

Die beurse ter waarde van sowat R40 000 elk sal hul klasgelde dek. Matthys beplan om 'n BScAgric in Plant- en Grondwetenskappe te studeer, terwyl Nicolaas 'n BScAgric-graadprogram gaan volg. 'n Verdere wortel voor hul neuse is dat die beurs jaarliks toegeken sal word vir die normale duur van hul studieprogram, mits hul al hul modules deurkom en dit enduit voltooi.

"Ons wens hulle alle sterkte met hul studies toe, en hoop dat hulle in die jare wat kom ook binne die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap hul merk sal maak," sê prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe.

Dit is die eerste jaar dat die US se Fakulteit AgriWetenskappe hierdie beurse beskikbaar stel aan akademiese uitblinkers van landbouskole in die provinsie. Dit is moontlik gemaak danksy die fakulteit se Dekaansfonds, wat sowat 7 jaar gelede op die been gebring is om ekstra finansiële ondersteuning aan studente en voornemende landboustudente te gee. Die Fonds word onder meer deur die fakulteit se oud-studente en bedryfsvennote ondersteun, asook 'n gholfdag wat jaarliks gehou word.

Volgens Monika Basson, wat aan die spits staan van die US Fakulteit AgriWetenskappe se studentewerwingsaksies, dien die beurse as beloning én aansporing vir die leerders se toewyding gedurende hul skoolloopbane. "Dit erken ook die besonderse werk wat in ons landbouskole gedoen word om kundigheid in die plaaslike bedryf te ontwikkel."

Foto's:

Die waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, prof Danie Brink (regs) het 'n studiebeurs aan Matthys Basson van Hoër Landbouskool Boland oorhandig. Saam met hulle is skoolhoof mnr Chris Fourie.


Nicolaas Basson van Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal word met sy beurs vanaf die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe gelukgewens deur sy skoolhoof, mnr André Latsky.