Vier studente se sportprestasies op internasionale vlak is vereer toe hulle by Maties Sport se jaarlikse toekenningsaand as die sportmans en sportvroue van die jaar vir 2016 aangewys is.
Die aand is op 19 Oktober aangebied.
Die tweemalige gouemedaljewenner by die Paralimpiese Spele en wêreldrekordhouer Charl du Toit het nie net weggestap met die titel van Parasport Sportman van die Jaar nie, maar het ook die toekenning vir mediapersoonlikheid van die jaar ontvang. Charl, wat in Rio goud gewen het in die 100m- en 400m-items vir atlete wat serebraal gestremd is (T37), was ook die aand se gasspreker.
Hy het sy mede-studente aangemoedig om die rede waarom hulle aan sport deelneem te identifiseer en daaraan vas te klou wanneer hulle moeilike tye ervaar, en om te geniet wat hulle doen.
Charl is 'n honneurstudent in die Fakulteit Opvoedkunde.
Nóg 'n onderwysstudent, Anruné Liebenberg, is as die Parasport Sportvrou van die Jaar aangewys. Sy het silwer gewen in die 400m (T47) by die Paralimpiese Spele.
Charl en Anruné se afrigter, dr Suzanne Ferreira, het weer eens die toekenning vir Afrigter van die Jaar vir individuele sportsoorte ontvang.
Die atleet Justine Palframan en muurbalspeler Daniel Smith is onderskeidelik as die Sportvrou en Sportman van die Jaar aangewys. Hulle kom toevallig albei van Eshowe, 'n klein dorpie in KwaZulu-Natal, en was in dieselfde laerskool. Hulle is ook albei studente in die Departement Sportwetenskap.
Justine, wat hierdie toekenning vir die derde agtereenvolgende jaar ontvang het, het Suid-Afrika in die 200m en 400m by die Olimpiese Spele verteenwoordig, terwyl Daniel 'n lid was van die USSA-span wat Suid-Afrika in September by die Wêrelduniversiteite-muurbalkampioenskap in Maleisië verteenwoordig het. Die span het die bronsmedalje verower.
Nadat hy die toekenning ontvang het, het hy gesê hy het nooit verwag dat muurbal hierdie soort erkenning sou ontvang nie en dat hy ongelooflik bly is daaroor.
Die Maties Rugby-sewesspan is as die Span van die Jaar aangewys nadat hulle sowel die USSA- as die Varsity Sports-titels gewen het en hulle afrigter, Ian Campbell-McGeachy, is die Afrigter van die Jaar vir spansporte. Maties Rugby is as die Klub van die Jaar aangewys.
Altesame 58 studente het volkleure ontvang, wat beteken dat hulle Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig het, en 56 studente het halfkleure ontvang. Dit is studente wat in provinsiale spanne opgeneem is.
Die krieketspelers Ryelan Hardnick en Niel Botha asook die rugbyspeler Craig Corbett het erkenning ontvang omdat hulle ook op akademiese gebied uitblink, terwyl Stacey van Konynenburg en Adriaan Hougaard (Maties Gimnastiek) en Nicky Giliomee (Maties Fietsry) vir hul administratiewe diens vereer is.
Die sewes-, fietsry-, swem-, gimnastiek-, judo- en manshokkiespan is vereer omdat hulle hul onderskeie USSA-kompetisies gewen het.
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het gesê sport vorm 'n belangrike deel van die universiteit se waardeproposisie.
"Ons sportprestasies genereer entoesiasme en lojaliteit onder studente, personeel, alumni en die breër gemeenskap wat ons dien, en ek moet sê, julle het ons vanjaar baie rede gegee om trots te wees."
Fotokrediet: Anton Jordaan