Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-navorsing in net 100 karakters opgesom
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 20/10/2016

"TB vermoor sonder vooroordeel van mens tot grootwild, maar binnekort is dit iets van die verlede. Superheld gevind!"

Met hierdie 100 karakters het dr Wynand Goosen die essensie van sy navorsing oor TB in grootwild raak opgesom en die tweede plek behaal in LitNet se Einstein-kompetisie.

Die Einstein-kompetisie is vanjaar vir die eerste maal aangebied deur die akademiese joernaal LitNet Akademies. Hulle wil met hierdie kompetisie jong wetenskaplikes uitdaag om hulle eie navorsing in enige vakgebied vir die publiek toeganklik te maak en ʼn atmosfeer van opwinding en aktualiteit rondom idees te skep.

Goosen, ʼn navorser by die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, het onlangs sy doktorsgraad verwerf.

Gedurende sy PhD-navorsing het hy ʼn paneel TB-diagnostiese merkers in buffels ondersoek en ʼn aantal belangrike bevindings gemaak. "Een daarvan is ʼn metode wat dit vir navorsers moontlik maak om bloedplasma te steriliseer, dit op ʼn klein stukkie papier te plaas en na enige plek in die wêreld te stuur vir verdere ontleding," het Goosen gesê.

Hy is opgewonde oor die rol wat wetenskaplikes in die beheer van siektes onder grootwild speel en is van voorneme om verdere navorsing onder ander dierespesies ook te doen. "Ek was die eerste student wat in 2012 by prof Paul van Helden, die Uitvoerende Hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe en dr Sven Parsons, ʼn veearts en wetenskaplike, se diere-TB-groep aangesluit het. Vandag is ons ʼn groep van sewe studente en ons doen ongelooflike interessante navorsing oor die voorkoms van TB onder verskeie grootwildspesies," het hy gesê.

Goosen het vir die Einstein-kompetisie ingeskryf omdat die geleentheid hom herinner het aan woorde van ʼn wyse navorser wat hy tydens ʼn konferensie in Wene ontmoet het. Hy het vir hom vertel dat dit belangrik is vir jong navorsers om hulself te bemark en nie te sit en wag vir hulle werk om dit namens hulle doen nie.