Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer prominente meningsvormers, beleidmakers, sake- en akademiese leiers
Outeur: Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 19/10/2016

Gerespekteerde meningsvormers, sakeleiers, beleidmakers en prominente akademici is onder die nuutste groep ontvangers van eregrade van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die ontvangers is die meningsvormer, bemiddelaar en versoeningsagent, dr Franklin Sonn; die prominente musiekwetenskaplike en professor in Musiekwetenskap en Musiekteorie aan die Universiteit van Princeton in die VSA – en die mees gesiene musiekwetenskaplike wat die Afrikavasteland tot nog toe opgelewer het, prof Kofi Agawu; die sake- en hoëronderwysleier, dr Johan van Zyl; die Rwandese regeringsleier, bankier, beleidvormer en kampvegter vir vroueregte, dr Monique Nsanzabaganwa; die Namibiese politikus en "vredesmakelaar", mnr Dirk Mudge, en ʼn baanbreker in rekenaarwese, satelliet-tegnologie en die ingenieurswese, prof Jan du Plessis.

Die US ken jaarliks eredoktorsgrade toe om erkenning te gee aan uitnemendheid op ʼn verskeidenheid vakterreine en om sulke individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap te identifiseer.

Die Universiteitsraad het die eredoktorsgrade by sy vergadering op Maandag 26 September 2016 goedgekeur. Die ontvangers sal die eregrade in Desember 2016 of in Maart 2017 ontvang.

Prof Kofi Agawu sal die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, ontvang, prof Jan du Plessis die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, mnr Dirk Mudge die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, dr Monique Nsanzabaganwa die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, dr Franklin Sonn die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, en dr Johan van Zyl die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa.

Oor dekades verwerf dr Franklin Sonn wye erkenning as ʼn beginselvaste en koersvaste leier. Ten spyte van die sosio-politieke sisteem waarbinne hy moes funksioneer het Sonn nooit toegelaat het dat sy menslikheid deur ʼn onregverdige politieke orde en ʼn korpus van diskriminerende wette gedefinieer is nie. Deur die integriteit van sy persoon en leierskap, sowel as sy onwrikbare vertroue in die krag van die redelike argument, eerder as in die pad van geweld en wanorde, het hy op sy eie, opvallende manier ʼn deurslaggewende bydrae gelewer om die skip van die Suid-Afrikaanse samelewing stelselmatig te draai om in ʼn nuwe rigting te begin vaar.

Dié opvoeder, onderwysleier, sakeman, openbare leier en meedoënlose kritikus van rasgebaseerde diskriminasie, het al twaalf eredoktorsgrade ontvang. Onder meer is hy skoolhoof, rektor van die destydse Skiereilandse Technikon (tans die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) , president van vooraanstaande onderwysverenigings en Suid-Afrika se eerste (en eerste swart) ambassadeur in die VSA.

Sonn is ook sakeleier, maatskappydirekteur, beskermheer van nie-regerings gemeenskapsorganisasies en voormalige president van die Afrikaanse Handelsinstituut, asook Visepresident van die Kamer van Koophandel en Nywerheid van SA.

Prof Kofi Agawu, ʼn boorling van Ghana, word allerweë as die voorste kenner van Afrikamusiek beskou en sy publikasies oor Afrikamusiek het die goudstandaard vir vakkundigheid op hierdie gebied geword.

In sy werk steek hy tradisionele grense in musieknavorsing oor deur beskouings uit musiekteorie, etnomusikologie en historiese musiekwetenskap byeen te bring. Hy slaag daarin om twee uiteenlopende musiektradisies – dié van 18de- en 19de-eeuse Europa en van Wes-Afrika – gelyktydig in sy navorsing te verken en die twee aan mekaar te verbind deur hulle onderskeie strukture en betekenis in hulle unieke historiese en sosiale omgewings te verken. In hierdie opsig dien sy werk as ʼn rigpunt vir alle ander, soortgelyke navorsing. Hy het ook baanbrekersnavorsing tot die vakgebiede van semiotiek en postkoloniale studie bygedra.   

Ter formalisering van vorige, minder amptelike skakeling, is hy onlangs aangestel as buitengewone professor in die Departement Musiek van die Universiteit Stellenbosch.

Die sakeleier dr Johan van Zyl het in 2015 uitgetree as Groep Uitvoerende Hoof van Sanlam. Onder sy leierskap is Sanlam op ʼn pad van volgehoue groei en prestasie geplaas. Waar die instansie vir meer as 90 jaar hoofsaaklik bekend was vir lewensversekering in die wit Afrikaanssprekende middelmark, het Van Zyl die maatskappy omvorm in ʼn gediversifiseerde finansiëledienstegroep wat spog met ʼn voetspoor oor 34 lande in Afrika, asook wesenlike besighede van etlike miljarde rande in Indië en Maleisië, en ook ʼn nisfokus in die ontwikkelde lande, naamlik die Verenigde Koninkryk, die VSA en Australië.

Onder meer is Van Zyl die Sunday Times Business Leader of the Year in 2014, Media24/Die Burger Sakeleier van die Jaar 2012, Cape Times/KPMG Personality of the Year 2006 en ontvang ook die All Africa Business Leader Award in 2015 as die topsakeleier in Suider-Afrika. 

In sy vroeëre loopbaan is hy ʼn hooggeagte akademikus en Rektor van die Universiteit van Pretoria (UP) – ʼn rol wat hy in Januarie 1997 op die jeugdige ouderdom van 40 aanvaar het. Hy is ook as een van die top 100 akademici aan die UP gelys toe die universiteit in 2008 sy eeufees gevier het.

Dr Monique Nsanzabaganwa, ʼn oudstudent wat haar meestersgraad (sy was die toppresteerder in haar klas) en doktorsgraad aan die US verwerf het, het reeds op ʼn jong ouderdom twee portefeuljes na mekaar as minister in die regering van haar geboorteland, Rwanda, beklee. Hier het sy beleidsinisiatiewe geskep en toegepas wat bygedra het tot die merkwaardige ekonomiese ommekeer in haar land die afgelope 15 jaar, en staatsinstellings help opbou wat deesdae onder die beste in die wêreld gereken word. Sy is ʼn briljante vakkundige en ʼn besielende leier wat opreg verbind is tot die verbetering van die samelewing en die lewens van Afrikavroue in die besonder.

As staatsminister belas met ekonomiese beplanning het sy Rwanda se strategie vir ekonomiese ontwikkeling en armoedeverligting aangevoor en die heel eerste beleids- en regsraamwerk vir mikrofinansiering opgestel.

Hierna is sy in die meer senior kabinetspos van minister van handel en nywerheid aangestel. Dié aanstelling het haar ʼn kernrol laat speel in die land se strategie om die ekonomie te transformeer tot ʼn meer gebalanseerde, minder landbou-oorheerste struktuur.

Sy het haar PhD in 2012 van die US verwerf kort nadat sy as adjunkpresident van Rwanda se Nasionale Bank aangestel is. In dié nuwe rol is sy ten nouste betrokke by monetêre beleid, finansiële regulering en die bank se navorsingspublikasies. Met Nsanzabaganwa se aktiewe deelname as minister en sentrale bankier het Rwanda se instellings vir staatsbestuur en ekonomiese beleid sedert 2000 geweldig ontwikkel, en is dit tans bekend vir uitsonderlike gehalte, nie alleen op streeksvlak nie, maar ook internasionaal.

Mnr Dirk Mudge het ʼn kernrol gespeel om die voormalige Suidwes-Afrika se oorgang tot ʼn politieke demokrasie te fasiliteer en kan stellig as een van die hoofargitekte van Namibië se onafhanklikwording beskou word.

Met besondere visioenêre, strategiese en transformasiegerigte leierskap het hy nie net as "vredesmakelaar" gedien en sy tradisionele ondersteuningsbasis op ʼn nuwe pad gelei nie, maar ook ʼn beduidende rol gespeel om versoening tussen wit en swart in Namibië te bewerkstellig. In baie opsigte het hy die dooiepunt help verbreek wat ná die Tweede Wêreldoorlog oor die stand en status van dié destydse mandaatgebied van Suid-Afrika ontstaan het.

Deur sy uitstekende onderhandelingsvaardighede en aanvoeling vir strategie het hierdie US-alumnus hom as ʼn uitsonderlike transformasieleier bewys wat nie net Namibië na onafhanklikheid help lei het nie, maar beslis ook die weg gebaan het vir die politieke oorgang in Suid-Afrika. Mudge se onvermoeide leierskap in diens van sy land, sy innovasie in die soeke na alternatiewe politieke oplossings vir Namibië sowel as sy buitengewone bekwaamheid op die gebied van veranderingsbestuur is alles kenmerke waarmee die US graag sy gegradueerdes wil toerus.

Prof Jan du Plessis het ʼn beduidende en baanbrekersrol vervul in die ontwikkeling van sowel die rekenaarwese as satelliet-tegnologie in Suid-Afrika. Hy het ook ʼn sterk vormende invloed gehad op geslagte elektroniese ingenieurstudente aan die US.

Onder meer was hy verantwoordelik vir die invoer en installasie van die eerste minirekenaar by ʼn universiteit in Suid-Afrika gedurende die 1970s en hy was ook die dryfveer vir die bou en installasie van die eerste laboratorium van mikrorekenaars in 1977, wat in dieselfde tydperk ontstaan het as die eerste Apple 1 en PET persoonlike rekenaars in die VSA. In 1986 vestig hy die eerste moderne persoonlikerekenaarlaboratorium met netwerkverbindings – sover bekend ook die eerste in Suid-Afrika. Hiermee word die era van rekenaargebruikersareas vir studente ingelei.

In die vroeë negentigerjare van die vorige eeu is Du Plessis, saam met Arnold Schoonwinkel en wyle Garth Milne, die aanvanklike dryfkrag agter die ontwikkeling van die SUNSAT-mikrosatelliet – Afrika se eerste satelliet – en die suksesvolle lansering daarvan deur NASA in Februarie 1999 het die wêreld deeglik laat kennis neem van die Universiteit.

Hy is ook nou betrokke by die stigting van SunSpace, die afwentelmaatskappy wat gestig is om verdere satelliete te bou. Hier het hy op ʼn tegniese vlak ʼn groot rol gespeel in die ontwerp en bou van satelliete waarvan SumbandilaSat die bekendste is. Dié projekte maak dat hy met reg beskou kan word as een van die "vaders" van die ruimtewetenskap en in die besonder van die satellietwese in Suid-Afrika, veral deur sy groot tegniese bydraes.