Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wees lief vir jou bene – beskerm jou toekoms
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 19/10/2016

Meer as 200 miljoen mense regoor die wêreld word geraak deur osteoporose (OP), ʼn siektetoestand waar lae beendigtheid daartoe lei dat beenfrakture maklik voorkom. In Suid-Afrika sal een uit drie vroue en een uit vyf mans gedurende hulle leeftyd die siekte ontwikkel.

"Na raming is daar elke drie sekondes iemand in die wêreld wat ʼn beenfraktuur opdoen weens OP. Vroeë opsporing en suksesvolle ingryping kan die nadelige uitwerking van hierdie voorkombare siekte op mense se lewens verhinder," het dr Ankia Coetzee gesê. Sy is ʼn endokrinoloog en senior dosent by die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Tygerberg-hospitaal.

Die Internasionale Stigting vir Osteoporose se tema vir vanjaar se bewusmakingsveldtog is "Wees lief vir jou bene – beskerm jou toekoms". Die stigting doen ʼn beroep op die algemene publiek om vroeë stappe te doen om hulle bene en spiere te beskerm, sodat hulle ʼn goeie lewenskwaliteit kan geniet en steeds onafhanklik kan bly.

Beenfrakture as gevolg van OP is ʼn ernstige bron van kommer, hoofsaaklik as gevolg van die invloed op ʼn persoon se lewenskwaliteit en lewensverwagting. Na raming oorleef 20 tot 24 persent van die pasiënte wat ʼn heup gebreek het nie langer as een jaar na die besering nie.

Volgens Coetzee is die algemene opvatting dat OP ʼn siekte is wat wit vroue aantas verkeerd. "Navorsing wat by die US gedoen is toon ʼn soortgelyke voorkoms van werwelfrakture by swart en wit vroue, wat beklemtoon hoe belangrik dit is om op te let na simptome van hierdie siekte by pasiënte van alle etniese groepe."

Om sake te vererger, word sommige frakture, meestal lumbale werwelfrakture, dikwels nie gediagnoseer nie en selfs indien ʼn fraktuur gediagnoseer word, word OP nie gereeld genoeg as die onderliggende oorsaak beskou nie.

"Die goeie nuus is dat OP tot ʼn groot mate voorkom kan word," het Coetzee gesê. Die faktore wat tot OP lei is dikwels ook dié wat die verlies aan beendigtheid versnel. Sommige van hierdie versnellende faktore (soos ʼn familiegeskiedenis van die siekte) kan buite ʼn pasiënt se beheer wees.

Daar is wel stappe wat gedoen kan word om die verlies aan beendigtheid te verhinder. Goeie voeding en gereëlde gewigdraende oefening is baie belangrik vir beenbeskerming. Daar word aanbeveel dat ʼn persoon drie of vier dae per week vir 30 tot 40 minute lank oefen. Neem ook genoeg proteïen, kalsium en vitamien D in, beperk alkohol inname en moenie rook nie.

"ʼn Aspek wat gereeld oorgesien word en wat nie oorbeklemtoon kan word nie, is om ten alle tye te probeer om nie te val nie, veral wanneer jy ouer is," het Coetzee gesê.

Oor die algemeen word beenmineraaldigtheid BMD met dubbelenergie-X-straal absorpsiometrie (DEXA) -skandering getoets. Omdat veroudering op sigself een van die grootste risikofaktore vir OP is, word daar aanbeveel dat alle vroue van 65 jaar of ouer en alle mans van 70 jaar en ouer getoets moet word vir ʼn lae BMD, selfs indien bykomende risikofaktore nie teenwoordig is nie.

By jonger mense sal dit waarskynlik nodig wees om toetse te doen as ander kliniese faktore ter sprake kom, soos byvoorbeeld vroeë menopouse, die gebruik van glukokortikoïede hormoonaanvullings, en gepaardgaande toestande soos rumatoïede artritis ensovoorts.

Dit is egter belangrik om kennis te neem dat alhoewel BMD gebruik word om vir die teenwoordigheid van OP te toets, dit talle beperkings het. Daar kan nie net op BMD staatgemaak word wanneer die risiko's om frakture op te doen bepaal word nie. 'n Geïntegreerde stel toetse moet gedoen word om ʼn suksesvolle risiko-bepaling te doen.

Frakture, veral van die heup en ruggraat (maar nie daartoe beperk nie), lei dikwels tot ʼn bose kringloop van verdere frakture. Verder veroorsaak dit in die meeste gevalle chroniese pyn, onbeweeglikheid en ongeskiktheid. As gevolg hiervan kan pasiënte dikwels fisies afhanklik van ander mense wees. By pasiënte met heupfrakture is 40 persent nie daartoe in staat om onafhanklik te loop nie en 33 persent is heeltemal afhanklik van hulle familielede of versorging in ʼn tehuis vir die eerste jaar na die fraktuur opgedoen is.

Voorsorg is altyd beter nasorg en die belangrikheid van leefstylstrategieë kan nouliks oorbeklemtoon word. Ongelukkig is leefstylaanpassings nie vir almal genoeg nie. Dit is daarom baie belangrik dat mense hulle dokters raadpleeg om te verseker dat OP vroeg gediagnoseer word en daar dadelik met toepaslike behandeling begin kan word. Enigeen met ʼn hoë risiko om OP te ontwikkel moet alle moontlike stappe doen om die kanse te verlaag om toekomstige verswakkende frakture op te doen.

Wat is osteoporose?

Osteoporose (OP) is ʼn algemene siektetoestand wat gekenmerk word deur lae beengewig of beenmineraaldigtheid (BMD) en ʼn afname in die kwaliteit van bene. "Osteo" beteken letterlik been en "porose" beteken bros. Die woord osteoporose beskryf die voorkoms van been indien dit middeldeur gebreek word en visueel ondersoek word. Normale been sal klein gaatjies hê, maar ʼn been met osteoporose sal baie meer en groter porieë of gate hê.

Hierdie veranderings lei tot ʼn afname in beensterkte wat lei tot heup-, ruggraat- en gewrigsfrakture. Daar is dikwels geen simptome nie totdat komplikasies, in hierdie geval beenfrakture, voorkom. Die risiko tot frakture neem drasties toe namate mens ouer word, nie net as gevolg van lae BMD nie, maar ook as gevolg daarvan dat ouer mense meer geneig is om te val.

 

Medianavrae

Bemarkingskoördineerder|
Mandi Barnard
+27 (0)21 938 9505
mandi@sun.ac.za
Afdeling Bemarking en Kommunikasie
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetennskappe
Universiteit Stellenbosch  

Webwerf:       www.sun.ac.za/health
Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter:           @SUhealthsci