Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sekuriteit verskerp op US-kampusse
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 12/10/2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Kampussekuriteitsdiens het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) waaksaamheid en veiligheidsprosedures op sy kampusse opgeskerp na versteekte petrolbomme op die Stellenbosch-kampus gevind is. Dinsdagaand (11 Oktober 2016) was Kampussekuriteit en die SAPD vinnig op die toneel ʼn onsuksesvolle poging by die Fakulteit Ingenieurswese om ʼn petrolbom deur ʼn venster te slinger. 

"Te midde van die nasionale protesveldtog moet die US ʼn uiters moeilike situasie bestuur, maar dit is ʼn uitdaging wat ons met toewyding en vasberadenheid aanpak," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, gesê. "Die beskerming van universiteitseiendom word bemoeilik deur ons oop en uitgestrekte kampus met meer as 40 geboue , wat veelvuldige toegangsdeure het. Ons is egter vasbeslote om te verseker dat die oorgrote meerderheid van ons studente die akademiese jaar kan voltooi en sonder ontwrigting die finale eksamen aflê."

Prof De Villiers het die Universiteit se verbintenis tot finansiële ondersteuning vir arm en werkersklas-studente herbevestig,  maar het die geweld, ontwrigting van klasse, intimidasie van personeel en studente, en nou die duidelike planne om geboue aan die brand te steek, ten sterkste veroordeel.

"Dit is hartseer dat van ons eie studente hul toegangskaarte gebruik het om betogers kans te gee om geboue te beskadig, en medestudente van akademiese geleenthede te ontneem. Dit is ook hartseer dat betogende studente, sommige self beurshouers, betrokke geraak het by aanranding en ander aanhits  onder die dekmantel van deelname aan die nasionale veldtog vir gratis hoër onderwys," het prof De Villiers gesê.

“Studente wat hulle aan hierdie gedrag skuldig maak, plaas hul toekoms op die spel. Vandag se ‘proteshelde’ op sosiale media kan moontlik met die onbedoelde gevolge te doen kry wanneer hulle eendag vir werk aansoek doen.”

Twaalf studente is kragtens die Dissiplinêre Kode vir Studente uit die US geskors, hangende die uitkoms van ʼn dissiplinêre proses. Die skorsing hou verband met hul betrokkenheid by aanranding en/of aksies wat medestudente verhinder het om aan akademiese aktiwiteite deel te neem. Vier studente is Maandag tydens protesaksie deur die SAPD gearresteer.

Die US aanvaar protesaksie mits dit nie die akademiese projek ontwrig nie; nie die veiligheid van personeel en studente, of universiteitseiendom bedreig nie, en nie inbreuk maak op die regte van ander studente om te studeer nie. 

“Ons skroom egter nie om dissiplinêre prosesse en/of regstappe teen kriminele optrede te volg nie. Op die oomblik fokus ons daarop om die akademiese jaar te voltooi, maar intussen gaan ons ondersoeke en dissiplinêre prosesse voort. Verdagte persone is reeds geïdentifiseer, ook vir betrokkenheid by die petrolbomme,” het prof De Villiers gesê.