In April vanjaar is 'n 84-jarige vrou deur haar dogter na die Stellenbosch Biokinetikasentrum gebring met die versoek dat 'n biokinetikus moet help om haar ma se mobiliteit en fisieke krag te ontwikkel.
Die vrou is in 2009 met vaskulêre demensie gediagnoseer. Dit is 'n ernstige aftakelende toestand wat meer is as net vergeetagtigheid behels. As gevolg van verswakte bloedtoevoer na die brein word 'n breë spektrum van kognitiewe funksies aangeraak, insluitend die geheue, denke en redenasievaardighede. Verder kan taalprobleme en buierigheid ontstaan. Hierdie toestand het dus 'n beduidende impak op die vermoë van 'n individu om onafhanklik die aktiwiteite van die daaglikse lewe uit te voer.
Omdat sy haar PhD oor die rol van oefening op die kognitiewe funksie van ouer persone in 2015 voltooi het, is die kliënt aan dr Carla Coetsee toevertrou. Benewens die gewone siftingstoetse om die vermoëns van die kliënt te evalueer, het dr Coetsee ook die Montreal Kognitiewe Assessering (MOCA) wat onder meer die visueel-ruimtelike vermoë, geheue, aandag en geaardheid evalueer, toegepas. Die kliënt het 4 uit 'n moontlike 30 punte behaal – 'n bevestiging van die erns van haar kognitiewe disfunksie.
Dr Coetsee het met 'n eenvoudige program begin wat hoofsaaklik uit fietsry, balansoefeninge en funksionele liggaamgewigopleiding bestaan het. Die pasiënt was nie in staat om instruksies uit te voer – dit wil sê tussen die linker-of regtervoet te onderskei of egalig op die fiets te trap nie en vir die eerste paar sessies het dr Coetsee haar herinner dat sy daar was om te oefen. Die kliënt het ywerig twee sessies per week bygewoon en na 'n paar moeilike weke het sy begin om te reageer. Sy het dr Coetsee erken en haar naam onthou. Sy het verder ook vorige aktiwiteite wat sy nie sonder aanmoediging of herinnering kon doen nie, uitgevoer. Ná slegs 20 oefensessies was sy in staat om die taak op haar eie te voltooi en ook heeltemal korrek.
Volgens die kliënt se dogter is haar ma meer ontvanklik en minder angstig en gefrustreerd oor haar toestand en het sy beter balans en soepelheid.
Moet asseblief nie wag totdat jy 84 jaar oud is nie. Begin vandag met 'n oefenprogram en wees so aktief jy kan. Beter nog, bespreek 'n paar oefensessies by die Stellenbosch Biokinetikasentrum en leer watter oefeninge die beste vir jou sal wees. Bel die sentrum vandag: 021 808 4735 of stuur 'n e-pos aan biokin@sun.ac.za.