Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente baat by opstelkompetisie
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 06/10/2016

As deel van breër samewerking tussen die Universiteit Stellenbosch en die globale batebestuursmaatskappy Schroders het tien studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ná hul deelname aan 'n opstelkompetisie met R20 000 elk weggestap.

Dié opstelkompetisie maak deel uit van 'n gesamentlike beleggingnavorsingsinisiatief wat sy oorsprong het in 'n ooreenkoms wat in November 2015 tussen die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap by die US en Schroders se afdeling vir Multi-batebeleggings en portefeulje-oplossings (MAPS) onderteken is.

Die ooreenkoms sluit ook nagraadse beurse en 'n jaarlikse hoëprofielbeleggingseminaar in.

Die doel van die gesamentlike beleggingnavorsingsinisiatief is om kundiges in die bedryf en akademie bymekaar te  bring om saam te werk aan navorsing wat sowel die akademie as die bedryf se kennis oor beleggingsonderwerpe uitbrei en sodoende die gehalte van beleggingsuitkomste wat aan beleggers gelewer word, te verbeter.

Die kompetisie was oop vir nagraadse studente in die Departemente Statistiek en Aktuariële Wetenskap, Ondernemingsbestuur en Ekonomie oor onderwerpe wat deur MAPS en Schroders se strategiese vennoot Lombard Insurance voorgestel is. Elke onderwerp is deur Schroders aan 'n mentor toegeken wat via Skype beskikbaar was om raad en praktiese insig te gee.

Ashley Lester, globale hoof van multibatebeleggings- en  portefeulje-oplossings by Schroders, het die opstelle nagesien.

"Ek was veral in my skik om die hoë gehalte van baie van die inskrywings te sien. Dit was geen maklike taak om 10 wenners te kies nie en ek voorsien dat dit selfs nog moeiliker gaan word in die jare wat kom soos studente beter met die opstelkompetisie vertroud raak," het hy gesê.

Doug Abbott, Schroders se hoof van besigheidsontwikkeling in Suid-Afrika, het studente verseker dat die mentors wat aan elke onderwerp toegewys is, hoëprofielpersoneel is van die maatskappye waarvoor hulle werk.

"Schroders stel as maatskappy baie belang in onderwys en wil talent in Suid-Afrika ontwikkel," het hy bygevoeg.

Carel van der Merwe van die Departement van Statistiek en Aktuariële Wetenskap, wat die kompetisie saam met Schroders georganiseer en bestuur het, glo dat dit 'n fantastiese geleentheid was vir studente is om onderwerpe wat relevant is tot die bedryf na te vors en om senior personeel van vooraanstaande maatskappye te ontmoet en met hulle te netwerk.

Prof Stan du Plessis, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het Adam Smith aangehaal wat gesê het dat as individue weet ons min, maar gesamentlik weet ons geweldig baie.

"Dit is deur die proses van kompetisie dat die inligting waaroor jy beskik in die kollektiewe ruimte inbeweeg. Dit is wat markte doen en dit is ook wat 'n kompetisie soos hierdie een doen. Dit gee ons die geleentheid om buite ons individuele ruimte te beweeg en met kollegas by Schroders kennis te maak. Dit gee ook vir hulle die geleentheid om te sien wat ons hier by die US doen."

Die wenners is Coetzee Janse van Rensburg, Peter-John Clift, Peru Govindasamy, Rina de Villiers, Jannes Germishuys, Anri Kotzé, Gcinile Dlamini, Nadia Burger, Rebecca Selkirk en Johann Pfitzinger.

Pfitzinger, wat die hoogste punt behaal het, het dit geniet om aan die onderwerp te werk wat hy gekies het (Die uitwerking van onkonvensionele monetêre beleide).

"Dit is baie bevredigend wanneer die werk sulke rojale erkenning ontvang," het hy bygevoeg.

"Die onderwerpe en besprekings met die Schroders-span het ons nuttige insigte gegee oor watter kwessies en vrae tans belangrik is en die kompetisie het ons die geleentheid gegee om hieroor na te dink in 'n produktiewe ruimte. Ek het ook die kruis-departementele aard van die kompetisie geniet en het baie interessante gesprekke met studente in ander departemente gehad.

"Die kompetisie het 'n geleentheid gebied om 'n aktiewe belangstelling te ontwikkel wat selfs ná die kompetisie nog kan groei – ek het dus al heelwat bykomende navorsing oor dieselfde onderwerp gedoen."

Fotokrediet: Hennie Rudman, SSFD