Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fisiologiestudente van US kry toekennings
Outeur: Media & communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 06/10/2016

Twee fisiologiestudente van die Universiteit Stellenbosch (US), Tanja Davis en Jenelle Govender, was onderskeidelik die wenner en naaswenner van die gesogte Wyndham- kompetisie wat deur die Fisiologiese Vereniging van Suider-Afrika (FVSA) georganiseer is.

Die Wyndham-kompetisie is die hoogtepunt van die jaarlikse FVSA konferensie en bied nagraadse studente van alle Suid-Afrikaanse universiteite die geleentheid om hulle navorsingswerk aan te bied en te verdedig vir 'n internasionale gehoor. Dertig studente het vanjaar deelgeneem.

Tanja (die wenner) en Jenelle (die naaswenner) is albei PhD-studente in prof. Anna-Mart Engelbrecht se Kankernavorsingsgroep in die Departement Fisiologiese Wetenskappe aan die US. Die fokus van hierdie navorsingsgroep is op die verkenning van nuwe behandelingsregimes t.o.v.  chemoterapie en ondersteunende behandelings.

Volgens prof. Engelbrecht is hierdie tipe navorsing baie belangrik. Alhoewel dit bewys is dat kragtige middels soos doxorubicin (DXR) kanker suksesvol kan behandel, het dit ook verskeie newe-effekte tot gevolg soos bv. naarheid, braking, die onderdrukking van bloedselvervaardiging in die beenmurg, en kardiotoksisiteit.  

"'n Ander groot bekommernis is die feit dat kankerselle toenemend middelweerstandig word," waarsku sy.

Tanja het die toekenning ontvang vir haar aanbieding oor die rol wat die menslike AHNAK proteïen speel in die respons van 'n kankersel op DXR, 'n middel wat dikwels vir borskankerpasiënte voorgeskryf word.

Sy verduidelik: "Vroue met borskanker reageer almal verskillend op behandeling en waar 'n sekere behandeling goed werk vir een persoon, mag 'n ander een anders op die behandeling reageer. Omdat alle kankers nie dieselfde is nie, reageer hulle dus verskillend op dieselfde behandeling. Ons het reeds geweet dat die AHNAK proteïen moontlik betrokke kan wees by borskanker, maar dit was nog onduidelik hoe, en of dit 'n effek kan hê op die kankersel se respons op chemoterapeutiese behandeling.

Tanja se navorsing het belangrike insig gegee oor hoe borskanker weerstandig kan wees teen behandeling: Haar navorsing het onder andere gevind dat die AHNAK protein 'n belangrike rol gespeel het in seldood en die selsiklus die oomblik wat DXR toegedien is. Die belangrikste is dat sy bevind het dat die AHNAK proteïen hierdie rol slégs in borskankerselle vervul het wat weerstandig teen DXR was.

"Wanneer ons verstaan hoe 'n kanker sal reageer op 'n spesifieke behandeling, kan aanpassings gemaak word om die uitkoms vir die pasiënt te verbeter," verduidelik sy.

Jenelle se navorsing oor die toksiese newe-effekte van DXR, het aangetoon dat behandeling met melatonien (wat chemoterapie voorafgaan), die hart kan beskerm. 

Melatonien word natuurlik in die menslike liggaam geproduseer deur die pineaalklier in die brein en is verantwoordelik vir die regulering van die liggaam se slaap-wakker-siklus. Maar melatonien is ook 'n sterk antioksidant en het getoon om 'n invloed op die funksionering van mitokondria in die sel te hê en kankergroei te stop, terwyl dit 'n beskermende effek op die hart het.

Die doel van Jenelle se navorsing was om die spesifieke meganismes te isoleer waardeur melatonien die mitokondria beskerm  in die konteks van DXR-geïnduseerde kardiotoksisiteit: "Die hart het 'n hoë energie-aanvraag en 90% van hierdie energie word deur die mitokondria vervaardig. DXR teiken spesifiek die mitokondria, waar dit dan wanfunksionering veroorsaak wat uiteindelik kan lei tot hartdefekte en hartversaking."

Die resultate van haar studie dui sterk daarop dat voorafbehandeling met melatonien die hart kan beskerm teen die toksiese effekte van DXR deur die funksionering van die mitokondria te verbeter en dus sodoende die oorlewing van die hartselle kan verhoog.

Op die foto, Jenelle Govender (links) en Tanja Davis