Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Calorosas boas-vindas a José!
Outeur: Albe van Niekerk
Gepubliseer: 06/10/2016

José HT Rocha (MSc), tans 'n PhD student in Bosbou onder Prof. Leonardo Gonçalves van die Agronomie en Bosbou Fakulteit (FAEF) van São Paulo Universiteit, Brasilië, is tans 'n geaffilieerde studentenavorser by die Universiteit van Stellenbosch se Departement Bos- en Houtkunde. Hy sal tot Februarie 2017 navorsing doen onder die toesig van Dr. Ben du Toit.


José se MSc navorsing het gefokus op die langtermyn effek van bestuurspraktyke na die kaalkap van bloekomplantasies in kort siklusse. Sedert sy MSc-studie, ondersoek hy die effek van verskillende bestuurspraktyke m.b.t. takafval op voedingstof siklusse en volhoubaarheid van Eucalyptus plantasies in Brasilië. Hy bestudeer die uitwerking van takafval retensie vergeleke met die toediening van houtspaanders en addisionele kunsmis  op die voeding en volhoubaarheid van Eucalyptus in kort rotasies. Sy hooffokus in hierdie studie is die uitwerking op grondeienskappe en op die voedingstof kringloop. José is ook 'n dosent in Bosgrondkunde by die FAEF Fakulteit aan São Paulo Universiteit.


Gedurende sy besoek aan die Bos- en Houtkunde departement, sal José onder andere navorsing doen op die ontwikkeling van volhoubare bestuurstelsels vir takafval en bosvloer (gesamentlik = "die brandstoflading") in denneplantasies om sodoende die brandgevaar te verminder. Hy sal meewerk aan die navorsingsprojek getiteld "Die effek van herhaalde gebruik van voorgeskrewe brande onder denne", gekoördineer deur Dr. Ben du Toit. Verder sal José ook die effek van bemesting en beheerd-vrystellende kunsmis op die produktiwiteit van Eucalyptus plantasies in KwaZulu-Natal bestudeer.