Warriors-kolwer Ryan Bailey het ná 15 jaar as eersterangse krieketspeler in September as hulpafrigter by Maties Krieket aangesluit.
Nadat hy Suid-Afrika in 2002 by die o.19-krieketwêreldbekertoernooi verteenwoordig het, het sy professionele loopbaan ook nege jaar by die Vrystaat-franchise die Knights (voorheen die Eagles) en drie jaar by die Warriors ingesluit.
Die afgelope 15 jaar het hy trofeë gewen, saam met internasionale spelers gespeel, na Indië gereis om in die Kampioene-liga te speel en lewenslange vriende gemaak. Nou sien hy uit na hierdie nuwe hoofstuk in sy loopbaan.
"Ek is lief vir die spel en het nog baie om te bied. Dit is hoekom ek by afrigting betrokke geraak het. Krieket is my passie en ek wil my kennis aan jonger spelers oordra.
"Ons (Maties Krieket) het 'n jong groep, wat beteken ek kon nie op 'n beter tyd inkom om die spelers te help vorm nie."
As hulpafrigter sal Bailey verantwoordelik wees vir die afrigting van die Vics-span en om hierdie spelers voor te berei vir moontlike insluiting by die Maties-elftal.
Hy het baie gou agtergekom dat afrigting van 'n universiteitspan 'n balanseertoertjie verg – behalwe dat die klub die studente se akademiese verpligtinge in ag moet neem, staan hulle gereeld vier tot vyf spelers aan Boland af. Dit beteken dat Bailey aan sy span se diepte moet werk.
"As 'n afrigter moet jy buigsaam en inskiklik wees. Jy kan nie net op die eerste twee spanne fokus nie. Enigeen moet te alle tye gereed wees om te speel."
'n Paar senior krieketspelers het Maties ná die vorige seisoen verlaat en die huidige Maties Krieket-groep is redelik jonk.
"Hierdie jong spelers moet nou na vore tree en seker maak hulle bou voort op die gehalte-krieket waarvoor Maties bekend is. Ja, ons het 'n jong groep, maar dit is nie 'n verskoning om nie te presteer nie."
Die komende liga en USSA-toernooi in Desember sal 'n goeie aanduiding wees van waar Maties Krieket tans staan.
Bailey sien uit na hierdie uitdaging en om sy vaardighede en kennis te gebruik om jong spelers te help om die oorgang van krieket op skoolvlak na professionele krieket te maak.
"Ons is trots daarop dat ons die Maties-klub as 'n franchise bedryf – ons bedryf dit so professioneel as wat ons kan en die studente se skedules ons toelaat. Ons wil spelers vir Boland lewer en dan is dit is Boland se werk om hulle vir die Cobras voor te berei en die Cobras se werk om hulle vir die Proteas voor te berei."
Faizel Simon, Sportbestuurder: Krieket by Maties Sport, sê hy is baie bly dat Bailey besluit het om by die afrigtingspan van Maties Krieket aan te sluit.
"Ek glo ons spelers sal geweldig baat by sy uitgebreide ondervinding as eersterangse krieketspeler."