Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US fisioloog kry erkenning vir kankernavorsing
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 04/10/2016

Die Fisiologiese Vereniging van Suider-Afrika (FVSA) het prof. Anna-Mart Engelbrecht van die Universiteit Stellenbosch (US) vereer met die Lasec-toekenning vir uitnemendheid in fisiologie-navorsing by hul jaarlikse konferensie wat onlangs in Kaapstad gehou is.

Die Lasec- toekenning vereer goed gevestigde fisioloë wat bewese navorsingsuitnemendheid oor ’n tydperk getoon het, en ’n groot bydrae gelewer het tot die navorsingsaksies van die FVSA.

Prof Engelbrecht lei die Kankernavorsingsgroep in die Departement Fisiologiese Wetenskappe aan die US. Haar navorsing fokus op die verkenning van nuwe behandelingsregimes t.o.v.  chemoterapie en ondersteunende behandelings  wat die gebruik van laer chemoterapiedosisse sal steun, wat dus minder newe-effekte sal veroorsaak in normale gesonde selle terwyl bevredigende vlakke van kankerseldood behou sal word.

Sy sê kankernavorsing staar baie uitdagings in die gesig, waarvan die belangrikste is dat kankerselle toenemend weerstandig word teen chemoterapie. In hierdie verband het sy onlangs ’n navorsingstoelaag vir die volgende drie jaar van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang om die meganismes van weerstandigheid in borskankerbehandeling te ondersoek. Haar groep doen ook navorsing vir die Mediese Navorsingsraad oor die potensiaal van granaatpitolie om borskankerseldood te veroorsaak, sowel as om na kanker te kyk as ’n siekte in terme van   verdraagsaamheid, weerstand, siekmakendheid en kwaadaardigheid (’n twee jaar lange projek wat deur die NNS gefinansier word).

Prof. Engelbrecht was die outeur of mede-outeur van 50 navorsingsartikels in geakkrediteerde vaktydskrifte, sowel as sewe boekhoofstukke en het by verskeie nasionale en internasionale konferensies voordragte gelewer. Sy is tans die hoof van die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die US.